|

Sukses: AfriForum-buurtwag trek voertuigdief vas

Op Saterdag 14 Januarie het AfriForum-buurtwaglede en ander rolspelers gehelp met die arrestasie van ’n vermeende voertuigdief in Benoni, Gauteng.

’n Waaksame gemeenskapslid het die gesteelde voertuig opgemerk wat van die misdaadtoneel wegjaag en ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy en buurtwaglede in kennis gestel. Die voertuig is tot by die Lakeside Mall agternagesit, waar die verdagte die voertuig agtergelaat het en in een van die winkels probeer wegkruip het.

Die verdagte het selfs sekuriteits- en buurtwaglede probeer uitoorlê deur ander klere aan te trek, maar hy was onsuksesvol en is aangekeer. ’n Seinblokkeringstoestel sowel as valse nommerplate is in sy besit gevind.

“Dít is die tipe werk wat ons buurtwaglede daagliks doen. Ons prys hierdie vrywilligers vir hulle pogings om hul gemeenskappe te help beveilig. Ongelukkig is ons in ’n situasie waar die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) erken het dat hulle nie hul mandaat kan handhaaf nie, wat burgers geen ander keuse laat as om self betrokke te raak nie,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Die toename wat ons sien van gemeenskapsbetrokkenheid by ons veiligheidstrukture, het tot ’n groter aantal suksesverhale gelei. Dit is baie bemoedigend,” sluit Broodryk af.

Raak betrokke en sluit by jou AfriForum-buurtwag by www.afriforumbuurtwag.co.za. aan.

Soortgelyke plasings