|

AfriForum se Oos-Kaapse buurtwagte lê sowat 3 300 km af tydens nasionale patrollie

AfriForum se Oos-Kaapse buurtwagte het vroeër vandeesmaand kragte saamgesnoer met AfriForum se buurtwagte in elke uithoek van die land tydens dié burgerregteorganisasie se nasionale patrollie. AfriForum se nasionale patrollies word verskeie kere per jaar aangepak om sigbaarheid van buurtwagte op ’n nasionale vlak te verhoog, om kommunikasienetwerke te toets en sinkronisasie tussen die onderskeie buurtwagte in te oefen. Oos-Kaapse buurtwagte, waaronder 149 AfriForum-buurtwaglede en 95 lede van ander veiligheidsinstansies, het dié gesamentlike veiligheidsaksie aangepak en binne 13 ure nagenoeg 3 300 km afgelê en twee spesifieke veiligheidsinsidente hanteer.

AfriForum se Elliot-, Kirkwood-, Uitenhage-, Jeffreysbaai-, Colchester- en Port Elizabeth-buurtwagte het aan dié patrollie deelgeneem. Tydens die patrollie is daar ook hande gevat met die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Die patrollie het Vrydag 19 April omstreeks 18:00 begin en Saterdag tot 07:00 geduur. Hiertydens het 141 voertuie ’n totaal van 3 254 km afgelê.

AfriForum se nasionale radionetwerk stel Oos-Kaapse buurtwagte in staat om met die distrikskoördineerder in Gqeberha (Port Elizabeth) in kontak te bly en enige insidente te rapporteer.

“Ons bedank elke lid wat aan die nasionale patrollie deelgeneem het. Dit is duidelik dat AfriForum ’n groot groep mense kan mobiliseer wat nog vir hulle gemeenskap se veiligheid omgee. As ons binne die raamwerk van die wet optree, kan ons eienaarskap neem van ons eie veiligheid in ons gemeenskap,” verduidelik Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

Raak van dag nog betrokke by jou plaaslike buurtwag. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings