|

Bloemfontein-buurtwagte ontvang noodsaaklike bloedingbeheeropleiding

Bloedingbeheer is ’n lewensbelangrike vaardigheid vir enige persoon om te hê, maar veral vir diegene wat elke dag met veiligheidskwessies werk. AfriForum se Uitsig- en Wilgehof-buurtwagte in Bloemfontein het daarom ’n bloedingbeheerkursus voltooi gedurende Maart en April. Die kursus, getiteld Stop the Bleed, is deur Critical Training Concepts aangebied.

Die doel van hierdie opleiding is om kursusgangers toe te rus met die nodige kennis en vaardighede om ernstige bloeding te identifiseer, ’n toerniket en borskaswondseël reg te gebruik en hoe om wonde reg te verbind waar dit van toepassing is.

AfriForum-buurtwaglede kry daagliks te doen met situasies waar bloedingbeheervaardighede toegepas moet word. Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad, is dit belangrik dat buurtwaglede veral moet weet wat om te doen in hierdie situasies aangesien buurtwaglede baie keer die eerste mense op ’n toneel is.

“Hierdie soort opleiding bemagtig ons patrolleerders met die nodige kennis om ernstige bloeding te identifiseer en te behandel in ’n noodgeval. Ons is byna elke dag op ongelukstonele en misdaadtonele en kennis soos hierdie kan ons help om mense se lewens te red,” sluit Groenewald af.

Sluit by jou naaste AfriForum-buurtwag aan by www.wordlid.co.za

Soortgelyke plasings