AfriForum se Oos-Rand-buurtwagte neem aan massapatrollie deel


AfriForum se Alberton-, Brakpan-, Edenvale-, Germiston-, Springs- en Kempton Park-buurtwagte het op Vrydag 20 Julie 2018 in samewerking met die SAPD, gemeenskapspolisiëringsforums, verskeie sekuriteitsmaatskappye en veiligheidsinstansies in hul onderskeie gebiede aan AfriForum se massapatrollie deelgeneem. Die massapatrollie was daarop gemik om polisiëringsigbaarheid te verbeter.
Die aksie het omstreeks 18:00 begin en tot 6:00 die volgende oggend geduur. Altesaam 167 buurtwaglede het aan die patrollie deelgeneem en ’n totaal van 11 471 km tydens 885 manure afgelê, teenoor 6 120 km en 739 manure in April vanjaar. Die buurtwagte het 21 misdaadvoorvalle aangemeld. Patrolleerders het by verskeie ongelukstonele in Alberton en Edenvale bystand gebied en dwelms is in Kempton Park in samewerking met die SAPD gekonfiskeer.

“Ten spyte van ekonomiese druk en die toename in brandstofpryse is dit merkwaardig om te sien hoe vrywilligers in die Oos-Rand steeds bereid is om self verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te neem,” sê Marie Naude, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
“AfriForum-buurtwagte gaan voortdurend groter projekte in samewerking met die SAPD en ander veiligheidsinstansies aanpak om misdaad te beveg en veiligheid te verbeter,” sluit Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die noordstreek, af.

Raak by AfriForum se buurtwagte betrokke: SMS “Buurtwag” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings