| |

AFRIFORUM SE PIETERSBURG-BUURTWAG ONTVANG OPLEIDING EN OEFEN GEBEURLIKHEIDSPLAN

Die AfriForum se Pietersburg-buurtwaglede het op 31 Oktober ’n gebiedverkenningsaksie gehou, opleiding ontvang en ’n gebeurlikheidsplan opgestel en ingeoefen.

Die buurtwaglede het ’n veiligheidsoudit van die Flora Park- en Fauna Park-woonbuurt in Polokwane gedoen. Die Koraal-ouetehuis is langs ’n bebosde spruitgebied wat gereeld deur opportunistiese misdadigers geteister word en sommige inwoners van die ouetehuis was al slagoffers van geweldsmisdaad in die omgewing. Die buurtwag het dus ’n gebeurlikheidsplan opgestel om hulle reaksie op misdaad in hierdie gebied uiteen te sit. Die gebeurlikheidsplan is ingeoefen met die oog daarop om te verbeter en die buurtwag het met PLK Emergency Services saamgewerk om hierdie plan te implementeer.

Die buurtwag se vrouelede het met behulp van AfriForum se Potgietersrus-buurtwag ook selfverdedigingsopleiding ontvang.

“Deur hierdie aksie wil ons graag ons lede bemagtig om in die geval van nood bystand te kan bied,” sê Marius Fourie, voorsitter van AfriForum se Pietersburg-tak. “Ons bedank graag alle lede wat hulle tyd opgeoffer het vir hierdie inoefening sowel as die Potgietersrus-buurtwaglede wat ons vrouelede bygestaan het met opleiding.”

“Hierdie dag se verrigtinge is ’n goeie voorbeeld van AfriForum se nasionale strategie. Ons sal plaaslike strukture bystaan met toerusting, opleiding, tegnologiese stelsels en ’n nasionale netwerk opbou. Niemand is so bevoeg om na ’n gemeenskap se belange om te sien soos ’n gedissiplineerde gemeenskap self nie,” sê Andries Opperman, veiligheidskoördineerder vir AfriForum in Limpopo.

Om betrokke te raak by AfriForum se Pietersburg-buurtwag, laai die Telegram-toep af en soek vir @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings