| |

AfriForum se Pietersburg-tak ontsmet skole

Die AfriForum-tak in Pietersburg het ingespring en twee skole se persele ontsmet. Skole moet ontsmet word voordat dit heropen sodat leerders en onderwysers die perseel veilig kan betree.

X-Fuels in Pietersburg het van die ontsmettingsmiddel geborg waarmee die Laerskool Pietersburg-Oos op 5 Mei 2020 ontsmet is. Op 9 Mei is die Laerskool Krugerpark in Potgietersrus ook deur lede van die tak ontsmet.

“Ons leerders se welstand is baie belangrik en hierdie aksies help ons om seker te maak die kinders sal veilig en gesond by die skool wees,” sê Gideon Pelser, hoof van die Laerskool Krugerpark.

Tydens dié aksies word die stoepe en klaskamers met ontsmettingsmiddel bespuit. Handrelings, deurhandvatsels en die mure van klaskamers word ook behandel. Hierdie aksies sal egter op ’n gereelde basis herhaal moet word om doeltreffend te wees.

“As ’n ma van vier kinders beskou ek hulle gesondheid as my eerste prioriteit. Ek is bly dat ons van AfriForum se kant af ook ’n bydrae kan lewer sodat ander ouers meer gerus kan wees as hulle kinders moet skoolgaan,” sê Lylani Seitz, sekretaris van AfriForum se Pietersburg-tak.

Raak vandag nog by AfriForum se Pietersburg-tak betrokke: SMS jou naam na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings