|

AfriForum se Sasolburg-buurtwag help SAPD om sterk onwettige drank te vernietig

Die Sasolburg-buurtwag het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) Maandag 10 Junie gehelp om 820 liter onwettige drank te vernietig. Die alkoholinhoud van dié drank is 43% per 100 ml. Hierdie drank is gekonfiskeer uit ’n drankwinkel waarvan die eienaar ’n Chinees is. Hy het skuld erken en AfriForum en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het die SAPD met die vernietiging daarvan gehelp.

Die drankbottels is gemerk dat dit in Suid-Afrika gebottel is. Die inhoud bevat industriële alkohol, wat baie gevaarlik is vir menslike gebruik. Daar is nog twee sake geopen waarvan die drank ook vernietig sal word nadat die sake afgehandel is.

Hierdie drank is baie goedkoop en word algemeen deur straatmense aangekoop, wat lei tot dronkenskap en geweld op straat, huismoles en molestering. Die mense loop in hulle dronkenskap in die straat wat tot gevolg het dat hulle raakgery word, wat weer slegte gevolge vir motoriste, wat eintlik onskuldig is, het.

“Knap gedaan deur die buurtwag wat saam met die SAPD en GPF gewerk het. Hierdie voorval maak inwoners bedag daarop dat daar nie sommer goedsmoeds by enige winkel gekoop moet word nie. Elke inwoner van Sasolburg word aangemoedig om deel te word van die buurtwag,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder van die Mooirivier.

Volgens Johan Potgieter, buurtwagleier van Sasolburg, is hierdie ‘n baie gevaarlike drank om te gebruik, omdat die inhoud daarvan nie suiwer is nie. “Ek wil graag die publiek se aandag op hierdie probleem vestig en vra dat u ons sal kontak indien u op hierdie tipe drank afkom, sodat ons hierdie euwel kan uitroei,” sluit Potgieter af.

Klik hier om by AfriForum se buurtwagte betrokke te raak. Indien jy graag by die Sasolburg-buurtwag se projekte betrokke wil raak, kontak Potgieter by 082 337 5983.

Soortgelyke plasings