|

Groot ontevredenheid (én ’n skopfiets) ná nuus oor planne vir peperduur motor vir Govan Mbeki-burgemeester

Keelvol inwoners en lede van twee AfriForum-takke in die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit (GGPM) het vandag hul ontevredenheid met die beplande aankoop van ’n peperduur motor vir die sukkelende munisipaliteit se burgemeester duidelik laat hoor en ’n memorandum én ’n splinternuwe skopfiets by die munisipale kantoor afgelewer. Dit volg nadat dit vroeër vandeesweek aan die lig gekom het dat die munisipaliteit beoog om ’n luukse voertuig vir sy burgemeester, Nhlakanipho Zuma, aan te koop. AfriForum se Bethal- en Trichardt-Evander-Kinross-Secunda (oftewel Teks)-takke voer aan dat Zuma eerder geregtig is op ’n fietsie as ’n duur motor.

Gemeenskapslede se teenstand kom aangesien dié munisipaliteit se finansies in ’n benarde toestand is en dienslewering wil-wil knak onder die las van reuseskuld wat aan onder meer Eskom en Rand Water verskuldig is. Die munisipaliteit se wanbestuur lei daartoe dat die skuld aan diensverskaffers uitermatig hoog loop, voer AfriForum se Bethal- en Teks-takke aan. Die skuld aan Eskom beloop na bewering reeds meer as R3 miljard en dié aan Rand Water meer as R700 miljoen.

In die memorandum wat vandag oorhandig is, eis AfriForum meer verantwoordelike en deursigtige besluitneming en bestuur deur die munisipaliteit.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum-distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld, lei die munisipaliteit se hoë skuldvlak onder meer tot die implementering van ladingvermindering deur Eskom en ’n verlaging in waterdruk van Rand Water. Ladingvermindering word intussen bykomend tot beurtkrag toegepas, terwyl die laer waterdruk gemeenskappe in hierdie munisipaliteit in sommige gevalle van hul toegang tot water ontneem. AfriForum is intussen besig om ’n regstrategie te formuleer om die implementering van waterdrukverlagings teen te staan.

“Die munisipaliteit verkies om basiese dienslewering agterweë te laat en inwoners daarvoor te laat boet, terwyl amptenare as’t ware beloon word met blink, nuwe motors. Dit is onaanvaarbaar,” sê Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak.

“Die huidige bestel in die GGPM herinner sterk aan ’n diktatorskap, waar die klein groepie verkose elite in weelde bly en ry, ten koste van die mense wat hulle moet dien. Inwoners is nou goed keelvol hiervoor en weier om langer hierdie gedrag in stilte te aanvaar,” sluit Bekker af.

Bekker moedig die publiek aan om AfriForum se petisie teen die beoogde aankope van die nuwe voertuig te ondersteun. Besoek https://afriforum.co.za/govan-mbeki-munisipaliteit-betaal-nie-hulle-rekeninge-nie/ om die petisie te onderteken.

Soortgelyke plasings