|

Naboomspruit-buurtwag arresteer drie

AfriForum se Naboomspruit-buurtwag het op 5 November ’n intelligensie-gedrewe operasie gedryf wat die arrestasie van drie verdagtes tot gevolg gehad het. Gesteelde eiendom is teruggevind asook die voertuig wat in die betrokke misdryf gebruik is.

Inligting is ontvang dat dié verdagtes besig was om goedere op ’n plaas in die Naboomspruit-omgewing te roof. Die buurtwagspan het besluit om die verdagtes op die dorp in te wag en hulle dan vas te trek.

In samewerking met  Rural Safety Naboomboomspruit, Mokopane Rural Safety, Reflex Secure Naboomspruit en Reflex Secure Mokopane het hulle probeer om die voertuig af te trek en te deursoek, maar die voertuig het versnel. Die voertuig is agternagesit, die bestuurder het beheer verloor en in lyndrade ingejaag.

Die verdagtes het daarna te voet probeer ontsnap, waarna hulle agternagesit is en die drie verdagtes vasgekeer is.

“Gemeenskapsveiligheid is vir ons van uiterse belang en ons sal nooit gaan lê nie. Mense moet weet hulle kan op ons gemeenskapstrukture staatmaak. Ons veiligheidsuitdagings gaan nie oornag verdwyn nie, maar ons kan saam iets daaraan doen,” sê Magdel Jansen van Vuuren, distrikskoördineerder vir Limpopo.

Dié tak en buurtwagspan bedank die SAPS wat hulle assisteer het.

Om by die Naboomspruit-buurtwag aan te sluit, laai die Telegram-boodskap-toep af, en gaan na @AfriForumBuurtBot (https://t.me/AfriForumBuurtBot).

Soortgelyke plasings