AfriForum se Springs-tak hou skoonmaak-aksie

AfriForum se Springs-tak het op 15 Februarie 2020 ’n skoonmaak-aksie in die middedorp op die hoek van 6de Laan en 9de Straat gehou. Dít volg nadat die gebied al vir ’n geruime tyd ’n seer oog vir die publiek is, weens onwettige vullis wat daar gestort word.

Die laaste paar weke is verskeie klagtes oor onwettige stortingsterreine in Springs aan die plaaslike owerheid gerig. Hierdie klagtes het egter op dowe ore geval en die plaaslike raadslede trek bloot hul skouers op. Dit het AfriForum se Springs-tak genoop om ’n plaaslike kontrakteur aan te stel en een van die gebiede op te ruim.

“Ons besef aksies soos hierdie is slegs ’n tydelike oplossing, maar dit vestig ook ’n platform om ’n moontlike veldtog teen City of Ekurhuleni te dryf en druk toe te pas om die toepaslike verordeninge te handhaaf,” sê Cornel Swart, voorsitter van AfriForum se Springs-tak.

 

“Ons hoop dat hierdie soort aksies die gemeenskap sal aanspoor om proaktief tot die dorp se netheid by te dra. AfriForum sal voortgaan om ander probleemareas in die dorp met soortgelyke selfdoenaksies te takel,” sluit Swart af.

 

“AfriForum se Springs-tak wil tot ’n veiliger, skoner gemeenskap bydra. Ons doen daarom ’n beroep op inwoners om by ons plaaslike tak betrokke te raak en ons te ondersteun om nog meer suksesse te behaal,” se Marié Naudé, AfriForum se hoof vir gemeenskapstrukture vir die Noordstreek.

SMS “Vullis” na 45342 (R1) of stuur ’n e-pos aan springs.afriforum@gmail.com vir meer inligting.

Soortgelyke plasings