|

AfriForum Jeug-staptoere wil jongmense van Afrikanergeskiedenis leer

AfriForum Jeug wil jongmense met geskiedeniskennis bemagtig deur avontuurlustige staptoere aan te bied. Daarom hou hul vanjaar drie leierskap-en-geskiedenistoere in die Kalahari, Vrystaat en Natal om jongmense tussen 18 en 35 jaar met ’n praktiese eerder as teoretiese aanslag meer oor Afrikanergeskiedenis te leer.

Die Pioniervasbyt is die eerste toer en skop op 27 Februarie 2020 in Pretoria af. Dit handel hoofsaaklik oor die Groot Trek en die Eerste Vryheidsoorlog. Hoogtepunte sluit in besoeke aan Mgungundlovu, Piet Retief se graf, Spioenkop, Kerkenberg en die Kaalvoetvroumonument. Dié toer sluit af by die jaarlikse Majuba-fees, waar die Slag van Majuba op 27 Februarie 1881 plaasgevind het. Met dié slag het die boere die laaste geveg van die Eerste Vryheidsoorlog (ook bekend as die Eerste Anglo-Boereoorlog) – en dus ook die oorlog – gewen.

Die Rebelspoorvasbyt word vanjaar vir die derde keer aangebied en handel oor die Rebellie van 1914/1915. Die toer skop op Saterdag 25 April 2020 in Upington af duur tot 1 Mei 2020. Die staproete strek oor ongeveer 75 km. Hoogtepunte waarna toerlede kan uitsien, is ’n besoek aan die Rebellieboom (waar die Rebellie begin is), rivierswem, bergklim, kamp onder die sterre en die ervaring om die rebelle se roete van destyds te volg.

Die laaste toer vir die jaar is die Wesfrontvasbyt, wat 22 tot 27 September 2020 in Bloemfontein plaasvind. Dit handel spesifiek oor die Wesfront-slagvelde van die Tweede Vryheidsoorlog (ook bekend as die Tweede Anglo-Boereoorlog). Dié staproete strek oor ongeveer 70 km en sluit slagvelde soos Paardeberg, Poplar Grove en Driefontein in.

Laasgenoemde twee toere word aangebied in samewerking met dr. Louis Bothma, skrywer en uitgewer van Bloemfontein. Sy boeke Rebelspoor en Punt van die swaard het dié toere geïnspireer.

“Die heel beste uitkoms van hierdie toere is om te sien hoe jong Afrikaners hul identiteit ontdek. Baie jongmense voel deesdae verlore juis omdat hulle nie hul herkoms ken nie – almal het ’n behoefte om iewers te behoort en ons as AfriForum Jeug wil daardie gesonde bymekaarkomplek vir sulke jongmense wees,” sê Marike Labuschagne, AfriForum Jeug se nasionale koördineerder vir jeugontwikkeling.

Hierdie toere vorm deel van AfriForum Jeug se veldtog om jongmense se leierskap, kennis en vaardighede te ontwikkel en hul aan te moedig om ’n verskil in hul gemeenskap te maak.

Kontak Marike Labuschagne by 081 217 0008 of marike.labuschagne@afriforum.co.za om betrokke te raak of aan hierdie toere deel te neem.

Groepbesprekings deur universiteite, kolleges of koshuise is welkom. Skenkings vir die toere kan inbetaal word by:

Bank: FNB
Rekeningnaam: AfriForum NPC
Rekeningnommer: 62349898398
Verwysing: Jeugtoere

Soortgelyke plasings