|

AfriForum se teenboeliespan en Ruan Josh besoek Laerskool Roodekrans met die #100000gebedsboks-projek

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan en die sanger Ruan Josh het op 13 Oktober 2021 by die Laerskool Roodekrans in Roodepoort besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery en selfdood in skole en die doel is juis om kinders te bemoedig met ’n bemagtigingsboodskap en ’n gebedsboks.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Hierdie keer het AfriForum hande gevat met die sanger Ruan Josh. Ruan het sy storie en lewenslesse met die leerders gedeel. Dit is ook die eerste skool wat ons besoek het vir ons #100000gebedsboks-projek,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap. “Die leerders en onderwysers is uitgehonger vir iets positief soos hierdie, die wêreldwye pandemie en gepaardgaande inperkings is vir almal ’n uitdaging en elke gesin het hulle eie struikelblokke in dié tyd. Elke leerder het ook hul eie gebedsboks ontvang met ons besoek.”

Ruan het die leerders en onderwysers vertel dat hy self onlangs deur sy eie persoonlike “Covid” moes gaan en deel sy getuienis. Ruan praat nie net met die kinders se harte nie maar maak hulle op ’n interaktiewe manier deel van sy praatjie. Hy raak ’n verskeidenheid van moeilike onderwerpe aan van ouers wat dalk deur ’n moeilike tyd gaan, die pandemie, finansies, selfdood, boelie, en om iemand aan die dood af te staan. 

Die #100000gebedsboks-projek beoog om binne 24 maande 100 000 kinders te bereik. ’n Boksie kos R20 en individue óf skole kan by hierdie veldtog betrokke raak.

Stuur ’n e-pos na tania.scheepers@afriforum.co.za as jou kind se skool by die teenboelieveldtog en #100000gebedsboks-projek betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings