|

AfriForum se Winterberg-plaaswag help vure blus met nuwe toestel

AfriForum se Winterberg-plaaswag in Gqeberha het skaars sy nuwe toestel gekry om brande meer doeltreffend te bestry toe hy ’n noodoproep oor ’n veldbrand op ’n nabye plaas ontvang. Dié plaaswag het op 7 Mei ’n nuwe brandbestrydingstoestel met ’n waterkapasiteit van 600 liter ontvang, wat veral gedurende die droë maande gaan help wanneer veldbrande kan handuit ruk.

Nadat die toestel opgelaai en die noodoproep ontvang is, was die Winterberg-plaaswag onderweg na Uitenhage Farms en Groendal om die brande te blus. Met behulp van sowat 15 patrolleerders, die plaaslike Oos-Kaapse Parke-en-toerisme-agentskap (OKPTA) en Werk met Vuur (WoF) in Kareedouw en Uitenhage, kon die groep die vure nog dieselfde dag (7 Mei) in bedwang bring. Weens die sterk winde het die vure egter opgevlam en op 10 Mei deur belangrike infrastruktuur tot bo op Vermaakskop beweeg. Tans is die brande onder beheer en daar is nie ernstige skade aan die infrastruktuur aangerig nie. Die Winterberg-plaaswag moniteer die situasie.

AfriForum se Walker Drive-buurtwag het van 7 tot 12 Mei ook bystand op die toneel gelewer. Teen 8 Mei het die brande reeds oor ’n area van 2 000 ha gestrek.

Hierdie soort gemeenskapsgedrewe reaksie op noodgevalle is presies wat AfriForum deur sy verskeie inisiatiewe wil bevorder. “Gemeenskappe moet hande vat en saamwerk om te verseker dat hulle eienaarskap van hul eie veiligheid kan neem. Deur gewone burgers te bemagtig om ’n aktiewe rol te speel om hulself en hul woonbuurte te beskerm, hoop AfriForum om ’n veiliger en meer veerkragtige Suid-Afrika te skep,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

Hy sê verder AfriForum se Winterberg-plaaswag het sy verbintenis tot die veiligheid van sy gemeenskap getoon deur in nuwe toerusting te belê. “Tydens hierdie onlangse brande het die buurtwag onvermoeid gewerk om ’n veilige omgewing vir die gemeenskap te skep. Die nuwe brandbestrydingstoerusting is maar een van die vele stappe wat die plaaswag geneem het om hierdie doelwit te bereik,” sê Van der Walt.

Darius Stumke, die plaaswagleier, het sy dankbaarheid vir die nuwe toestel uitgespreek. “Dit is noodsaaklik om die regte toerusting en opgeleide personeel te hê om brande doeltreffend te bestry. AfriForum se Winterberg-plaaswag neem proaktiewe stappe om die veiligheid van sy gemeenskap te verseker,” sê Stumke.

Sluit vandag aan by jou plaaslike AfriForum-buurtwag: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings