|

AfriForum se Witbank-tak dra by tot ’n groener toekoms

Die AfriForum-tak in Witbank het op 3 Oktober 100 bome by die dorp se skole en kerke geplant as deel van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse boomplantmaandprojek.

Volgens Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het AfriForum vanjaar nagenoeg 2 530 bome landwyd geplant.

“Deur inheemse bome te plant bewaar ons nie net ons omgewing en maak dit ’n mooier plek om in te bly nie, maar ons wys ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as bloot ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n noodsaaklike natuurlike hulpbron – bome is simbolies van lewe,” sê Pretorius

AfriForum fokus jaarliks op ’n boomspesie wat algemeen voorkom sowel as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2019 is die maroela (Sclerocarya birrea), terwyl die skaars boom die appelblaar (Philenoptera violacea) is. AfriForum moedig egter sy lede aan om inheemse bome te plant wat in hul onderskeie omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Witbank onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen Pretorius.

Die tak moedig die gemeenskap aan om deurgaans inheemse bome in hul dorp te plant en deel te wees van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings