AfriForum se Witrivier-tak en SAPD span saam teen misdaad


Witrivier se AfriForum-tak het op 2 Februarie 2017 ’n afskrif van die samewerkingsooreenkoms wat op 16 Januarie 2017 tussen AfriForum en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Centurion gesluit is, aan lt.kol. Ngomane, bevelvoerder van die Witrivier-polisiestasie, oorhandig. Die partye het ook ’n strategiese vergadering gehou waartydens verskeie probleme in dié dorp geïdentifiseer is.

“Die ooreenkoms het ten doel om ’n geïntegreerde benadering te volg om veiligheid te verbeter en gemeenskapsamewerking in die bekamping van misdaad te bevorder,” sê Piet Skead, voorsitter van AfriForum se Witrivier-tak.

Skead sê verder dat die plaaslike tak baie opgewonde is oor die ooreenkoms en reeds goeie samewerking en ondersteuning van die SAPD ontvang.

“Die sukses wat ons behaal het teen die EFF se beplande grondgrype van verlede Sondag is te danke aan AfriForum se ondersteunende rol. Ons sien uit na selfs groter samewerking in die toekoms,” sê Ngomane.

Dian Pretorius, voorsitter van AfriForum se Witrivier-buurtwag, sê dat hulle baie opgewonde is oor die pad vorentoe en benadruk dat hierdie ooreenkoms die AfriForum-buurtwag in staat stel om nóg meer te doen om misdaad te bekamp.

Soortgelyke plasings