AfriForum skenk 42 ton voer aan boere in Williston


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag 42 ton voer aan boere in die droogte­geteisterde Williston-distrik geskenk.
Volgens AfriForum se Williston-tak is dit tans só droog in dié gebied dat boere genoop is om bloekomboomblare vir hul skape te voer. AfriForum het daarom ’n projek van stapel gestuur om hierdie boere by te staan.

“Ons het die nodige fondse ingesamel om die voer te koop en aan boere in nood te skenk,” sê Deon de Jager, projekbestuurder van die Williston-droogtehulpprojek.

Die voer, wat by Weideman Voere in Jacobsdal aangekoop is, gaan van 12:00 af by die Williston-skougronde uitgedeel word. “Ons is dankbaar vir al die skenkings wat lede van die publiek gemaak het om ons in staat te stel om hierdie boere te help. Ek wil ook in besonder vir Carel Joubert vir sy reusebydrae tot die projek bedank,” sluit De Jager af.
Jy kan ook help: SMS “Nood” na 38312 en skenk R10, of besoek www.noodfonds.co.za.

Soortgelyke plasings