| | |

AfriForum skenk handreiniger aan Wes-Kaapse instansies

Die burgerregteorganisasie AfriForum het van 14 tot 23 April 2020 3 000 botteltjies handreiniger aan instansies in verskeie Wes-Kaapse dorpe geskenk.

Hierdie instansies sluit die metropolisie, brandweerstasies, ouetehuise, kinderhuise, teenbende-eenhede, munisipale wetstoepassingsowerhede, rampbestuureenhede en tehuise vir persone met beperkte vermoëns in.

“Handontsmetting is die belangrikste voorsorgmaatreël wat elke persoon kan tref om homself, sy gesin en die algemene publiek teen die opdoen en verspreiding van COVID-19 te beskerm en daarom het AfriForum hierdie projek van stapel gestuur,” sê Thomas van Dalen, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek.

“Ons het hoofsaaklik op instansies gefokus waar mense weens die aard van hul werk ekstra blootgestel is en moontlik ook ander aan die virus kan blootstel, asook op diegene wat by instansies werk waar die inwoners die kwesbaarste is. As burgerregteorganisasie voel ons genoop om, met ons beskikbare middele, te help waar ons kan om die verspreiding van die koronavirus te beperk,” sê Deon de Jager, AfriForum se hoof van gemeenskapstrukture vir die suidstreek.

AfriForum het in die volgende dorpe of gebiede handreiniger versprei: Bellville, Durbanville, George, die Kaapse metropool, Kraaifontein, Laaiplek, Malmesbury, Mosselbaai, Oudtshoorn, Overstrand, Paarl, Parow, Riversdal, Rondeberg, Robertson, Saldanha, Stellenbosch, Stilbaai, Strand, Velddrif, Vredenburg en Worcester.

Die skenkings is hartlik ontvang en indien moontlik sal AfriForum ’n tweede fase van hierdie projek aanpak.

Raak vandag nog by hierdie projek betrokke: Stuur ’n e-pos na deon.dejager@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings