|

AfriForum skop binnekort tweede fase van opknapping langs N2 af

Die tweede fase van die opknapping van ’n veiligheidsreëling langs die N2-snelweg tussen Plettenbergbaai en Knysna skop binnekort af. In dié fase van opknapping beoog AfriForum se Knysna-tak om nagenoeg 230 meter van die heining te herstel.

Dié projek is in November verlede jaar begin en die eerste fase, waartydens nagenoeg 110 meter van dié reëling herstel is, is teen die middel van Desember afgehandel. Herstelkoste van fase een het reeds nagenoeg R16 000 beloop. Die projek sal in sy geheel in vier fases aangepak word.

AfriForum se Knysna-tak takel hierdie projek in samewerking met die plaaslike niewinsgewende organisasie Revive Knysna. Dié twee groepe span nou kragte saam en beplan om nog vele projekte in en om hierdie geliefde dorp aan te pak.

Volgens Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, is die doel van hierdie projekte om die gemeenskap aan te moedig om eienaarskap te neem van hul dorp en verval en agteruitgang te stuit.

“By AfriForum glo ons in selfdoen,” sê Erasmus. “Ons gaan nie wag dat iemand anders dit doen nie – ons sal self ingryp en ons gemeenskappe verbeter.”

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Knysna-tak, en maak saam ’n verskil.

Soortgelyke plasings