|

AfriForum slaggereed om Eskom-appèl oor steenkool- en dieselkontrakte te beveg

AfriForum is gereed om die kragreus Eskom wéér in die hof te pak oor die burgerregteorganisasie se aansoek om inligting rakende Eskom se bestaande steenkool- en dieselkontrakte te bekom. Dit volg nadat die Hooggeregshof in Johannesburg gister (13 Augustus) Eskom se aansoek om verlof tot appèl in dié saak toegestaan het.

Die hof het in Maart vanjaar in AfriForum se guns beslis en bepaal dat Eskom binne tien dae vanaf die datum van die hofbevel inligting rakende sy kontrakte aan AfriForum moes voorsien nadat die regter bevind het dat Eskom se redes vir die weiering van die tersaaklike inligting, sonder meriete is.

Regter Leonie Windell het egter gister Eskom se aansoek om verlof tot appèl toegestaan. Sy voer in haar uitspraak aan dat, gebaseer op die feite van die saak, sy nie oortuig is dat ’n ander hof tot ’n ander gevolgtrekking sal kom nie. Windell het benadruk dat die relatiewe kompleksiteit van aangeleenthede in die saak sowel as belang van die saak vir die publiek ’n verhoor deur die Hoogste Hof van Appèl regverdig.

Eskom het nou een maand om ’n kennisgewing van appèl by die Hoogste Hof van Appèl te liasseer, waarna die kragreus drie maande het om die rekord te liasseer. Die saak sal vervolgens na die Hoogste Hof van Appèl verwys word.

Volgens Charné Mostert, veldtogbeampte oor korrupsie by AfriForum, is dit kommerwekkend dat Eskom nou tegniese verwere opper in sy verwoede pogings om deursigtigheid en aanspreeklikheid te vermy. “As ’n staatsonderneming kan Eskom nie self besluit oor watter inligting weerhou kan word nie. Staatsondernemings moet openlik en verantwoordelik funksioneer. Die publiek het die reg op toegang tot inligting wat hul belange sowel as die funksionering van staatsondernemings raak. Daar is geen grys areas nie. Eskom kan nie langer hierdie kontrakte geheim hou nie,” verduidelik Mostert.

Agtergrondinligting

Die kontrakte-saak volg ná ’n aansoek wat AfriForum reeds in Julie 2022 kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan Eskom gerig het. AfriForum vermoed dat Eskom se steenkool- en dieselkontrakte inligting vervat wat moontlik onreëlmatighede en korrupsie by die kragvoorsiener aan die lig kan bring.

Soortgelyke plasings