AfriForum-tak in Hertzogville bekommerd oor drinkwater


Die pasherstigte AfriForum-tak in Hertzogville het vandeesweek die dorp se drinkwater as deel van die burgerregtewaghond se jaarlikse blou-en-groendruppelprojek getoets. Kommer­wekkende fosfaatvlaktellings, wat minder as 15 moet wees, staan op 25. Die uitslag van die toets vir E. coli was ook positief, wat rede tot groot kommer is. Die saak is by die munisipale bestuurder van die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit aangemeld en hy is gemaan om onverwyld aan die saak aandag te gee. Die plaaslike AfriForum-tak sal ook ’n monster by ’n laboratorium laat toets.
Taklede wou die saak by die waterwerk gaan aanmeld, maar geen personeel was te sien nie en die hek het oop gestaan. Dit is dus vir enige persoon moontlik om die perseel te betree en die drinkwater te saboteer.
Dit was ook vir taklede onmoontlik om die groendruppel gesuiwerde rioolwater te toets. Die rioolwerk was onbeman en die damme waarin die riool gestort word, is in ’n haglike toestand. Geen monsters kon geneem word nie. Die gemeenskap is bekommerd dat grondwater en nabygeleë boorgate besoedel sal word of reeds is.

“AfriForum is uiters besorgd oor die gehalte van die water in Hertzogville. Dit is die munisipaliteit se plig om skoon water aan die gemeenskap te voorsien. Dié toetse is ’n bewys dat die mense in beheer nie bevoeg is nie en ook nie die wil het om hul werk na behore te doen nie. Die AfriForum-bestuur sal alles in hul vermoë doen om druk op die munisipaliteit te plaas om hierdie ernstige saak reg te stel,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streeks­koördineerder vir Stellaland.

Raak by jou AfriForum-tak betrokke: SMS “Hertzogville” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings