Water
|

Kamieskroon en Garies al twee weke sonder water; eis munisipale ingryping

AfriForum se regspan, Hurter Spies Ingelyf, het op 6 Julie ’n prokureursbrief aan die Kamiesberg Plaaslike Munisipaliteit gerig om te eis dat die munisipaliteit water aan die verbruikers in Garies en Kamieskroon voorsien. Veder word daar ook geëis dat geen verdere onderbreking in die voorsiening van waterdienste vir die res van die jaar in hierdie dorpe plaasvind nie.

Inwoners van Garies en Kamieskroon ervaar tans uiterste watertekorte en is al vir sowat 14 agtereenlopende dae sonder water. Die brief spruit daaruit dat die gemeenskap ontneem word van hul basiese mensereg om toegang tot skoon drinkwater te hê.

Luidens die prokureursbrief het die munisipaliteit tot 8 Julie om die watertoevoer te herstel. Indien die inwoners teen dan nie water het nie, sal AfriForum verdere stappe oorweeg.

Die munisipale bestuurder, Rufus Beukes, het ontvangs van die brief erken.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, het die boorgate se waterpompe uitgebrand en die munisipaliteit het na bewering nie fondse om hierdie uitgebrande pompe te vervang nie.

“AfriForum het aangebied om nuwe pompe te installeer, maar die munisipaliteit het ons hulp summier geweier. Die munisipaliteite het op 1 Julie hul begroting vir die nuwe finansiële jaar gekry, so ek kan nie verstaan hoekom hulle nie die pompe kan vervang nie,”  sê Strauss.

Intussen het die DA en ’n plaaslike boer ingespring om die hospitale en klinieke van water te voorsien.

Soortgelyke plasings