|

AfriForum-tak takel opruiming van “nes” in Woltemadestraat

’n Oop veld in Woltemadestraat, Emalahleni, wat in die afgelope paar jaar deur kontrakteurs omgedolwe is, ’n wegpruipplek vir kabeldiewe en sluipslapers geword het en met rommel bestrooi is, is verlede week tydens nóg ’n skoonmaakaksie deur AfriForum se Witbank-tak opgeruim. Taklede het Vrydag 14 Junie ingespring om hierdie terrein skoon te maak en skoon te sny om dié groenstrook mooier én veiliger vir dié gemeenskap te maak.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, is dit nie die eerste keer wat die Witbank-tak ingryp by die opknapping van die Woltemadestraat-terrein nie. “Die Witbank-tak het al verskeie kere skoonmaakaksies hier aangepak om dié seer oog reg te ruk, maar hierdie keer is daar aansienlike vordering gemaak in die herstel van hierdie onooglike terrein,” verduidelik Bekker.

Kontrakteurs het, volgens Bekker, veral skade aangerig op die terrein toe opgrawings wat vir die aanlê van waterpype gemaak is, plek-plek omgedolwe en ongerehabiliteer agtergelaat is. Die Witbank-tak het daarom tydens hierdie skoonmaakaksie ’n laaigraaf ingespan om die veld gelyk te stoot en ook gras hier te sny om sodoende die potensiële skuilplek vir misdadigers te beperk.

Alfred Friess, voorsitter van die AfriForum se Witbank-tak, benadruk die noodsaaklikheid van die opruiming van die Wolmaransstraat-terrein: “Ons is moeg daarvoor dat ons buurt geplunder word. Hierdie veld is nou al vir te lank ’n broeiplek vir misdaad, maar nou is hierdie skuilplek uiteindelik vernietig en opgeruim.”

Raak vandag nog betrokke by AfriForum se Witbank-tak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Opruiming van die Woltemadestraat-terrein

Soortgelyke plasings