|

AfriForum-tak werk hard om Centurion te verbeter

Die AfriForum-tak in Centurion het die afgelope maand hard gewerk om die gemeenskap te help om probleme in die omgewing uit die weg te ruim. Die tak het verskeie klagtes ontvang rakende probleemareas wat nie onderhou word nie en wat ’n gevaar vir inwoners inhou.

Die Centurion-tak het reeds meer as 2 000 sakke vullis in Highveld verwyder wat op die sypaadjies, in die oop stukke veld en in die paaie gelê. Die sypaadjies, middelmanne en sirkels is skoongemaak en bossies en gras is gesny en verwyder om dit weer netjies te maak.

Die tak is die afgelope drie weke besig om die kanaal in Valhalla skoon te maak, wat ’n groot gevaar inhou vir inwoners wat in die omgewing bly. Die kanaal was erg toegegroei wat dit maklik gemaak het vir misdadigers om te gebruik as ’n aanval-en-vlug-roete. Sedert die kanaal skoongemaak is, het die inbrake ook drasties afgeneem. Die Centurion-tak se tuinspan het meer as 250 sakke vullis uit die kanaal verwyder.

Die tak se tuinspan het die afgelope twee maande ook gehelp om die fietsry- en staproetes by die Voortrekkermonument oop te sny en op te knap. 

AfriForum se Centurion-tak het verder ’n waterlek in Furman-park herstel nadat duisende liter water die afgelope drie maande weens dié waterlek verlore gegaan het. AfriForum het ’n versoek aan die Tshwane Metro gerig om die waterlek te herstel, maar nadat geen terugvoer ontvang is nie, is daar besluit om die waterlek self te herstel. Die tak het ook ’n slaggat wat vir meer as twee maande probleme veroorsaak het, herstel.

“Ons is dankbaar vir elke lid se bydraes wat hierdie werk moontlik maak. AfriForum se Centurion-tak sal aanhou om probleme in die area op te los en druk toe te pas waar nodig,” sê André de Bruyn, voorsitter van AfriForum se Centurion-tak.

“AfriForum sal voortgaan om projekte aan te pak om die gemeenskap en omgewing vir almal te verbeter. Al hierdie suksesvolle projekte is ’n voorbeeld van wat gemeenskappe kan bereik as almal saam werk. Ons is baie dankbaar vir elke lid wat hierdie projekte moontlik maak en wil graag meer mense aanmoedig om betrokke te raak,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Die tak beplan reeds hulle volgende groot aksies en projekte en wil die gemeenskap uitnooi om hul Facebook-blad dop te hou en om by die groepe op die Telegram-toep aan te sluit.

Raak vandag nog by AfriForum se Centurion-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Centurion” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings