|

AfriForum-takke in Bloemfontein maak verskil

Die AfriForum-takke in Bloemfontein het gedurende Januarie 2022 verskeie aksies aangepak om die veiligheid in Bloemfontein te verbeter asook die algehele voorkoms van die Rosestad op te knap.

Die takke het reeds aan die begin van die maand moue opgerol en in verskeie areas slaggate gevul, skoonmaakaksies aangepak en in velde, parkies en middelmanne die gras gesny. AfriForum se kontrakteurs het ook vullis opgetel, gras gesny, tuine opgeknap en stormwaterdreine skoongemaak ná die groot hoeveelhede reën wat die afgelope tyd geval het.

Die tak het ook hul volhoubare projekte aktief voortgesit, hierdie projekte behels die opknapping van parkies, velde en monumente en die tak word hier bygestaan deur Anchor of Hope. Monumente soos die President Brand Begraafplaas en die Brits monument word sedert Maart 2021 netjies gehou deur die AfriForum-tak. AfriForum se vullisverwyderingspan is ook hard besig om die gemeenskap by te staan waar die munisipaliteit versuim om vullis weg te ry. 

“Die AfriForum-takke werk hard om ’n verskil in die gemeenskap te maak en ons moedig graag die gemeenskap aan om betrokke te raak by die tak en saam ’n verskil te maak,” sê Christo Groenewal, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein. “Ons kan nie terugsit en kyk hoe die munisipaliteit aanhou om die gemeenskap in die steek te laat nie. Die verantwoordelikheid berus op ons om die netheid en veiligheid van ons gemeenskap te bevorder.”

Die AfriForum-buurtwagte in Bloemfontein het ook verskeie suksesse in Januarie behaal waaronder die arrestasie van ’n verdagte persoon wat met dwelms betrap is, die arrestasie van ’n kabeldief wat onder meer ook gesteelde juwele in sy besit gehad het. Hierdie arrestasies het geskied danksy AfriForum se nuutgestigte Bloem-Noord Landelike Buurtwag en Bloem-Noord Buurtwag uitgevoer in samewerking met die Navalsig SAPD. Verskeie buurtwagte het ook verskeie suksesvolle patrollies in samewerking met plaaslike sekuriteitsfirmas afgehandel.

Die AfriForum-takke het ook verskeie noodwaterpunte opgerig om die gemeenskap by te staan tydens die waterkrisis wat tans beleef word.

AfriForum 911 se mediese-reaksievoertuig in samewerking met VR-Medical ambulans diens, VR-Sekuriteit se nuwe noodhulp-afdeling verleen 24/7 noodsaaklike mediese hulp aan die gemeenskap. Weens die dringende tekort aan bloed in Suid-Afrika het die Fichardtpark-buurtwag se patrolleerders ook gaan bloedskenk, die buurtwag daag die gemeenskap aan hom hulle deel te doen en bloed te gaan skenk.

“Aangesien die AfriForum-netwerk in Bloemfontein verskeie strukture in plek het om op verskillende uitdagings aan te pak gee dit ons ’n geleentheid om ’n daadwerklike verskil te maak in die gemeenskap. Ons sal voortgaan met ons aksies om Bloemfontein veilig en netjies te hou sodat almal ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms kan hê,” sluit Groenewald af.

Sluit vandag by jou plaaslike AfriForum tak aan, SMS “AfriForum” na 45344 (R1).

Om deel te raak van AfriForum Vullisverwydering volg die skakel om te registreer,

Soortgelyke plasings