|

AfriForum teken appèl aan nadat Eskom PAIA-aansoek gedeeltelik weier

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag interne appèl aangeteken teen Eskom se besluit om sekere inligting, wat die organisasie in ’n PAIA-aansoek geëis het, te weerhou. AfriForum het op 11 Julie vanjaar dié PAIA-aansoek gerig om inligting te bekom oor aktiewe kontrakte wat die nasionale energieverskaffer met verskeie diensverskaffers het, dit sluit steenkoolverskaffers en vervoermaatskappye wat die steenkool aanry in.

Die appèlaansoek benadruk dat Eskom ’n onvoldoende verduideliking gegee het vir die inligting wat weerhou is en ook nie gehoor gegee het aan die PAIA-wet nie. Dié wet is daarop gemik om deursigtigheid te bevorder.  Volgens AfriForum weeg die openbare belang swaarder as die moontlike skade wat veroorsaak kan word indien die inligting wat uitgelaat is bekendgemaak word.

“AfriForum, ons lede en die breër publiek het ’n reg op hierdie inligting en daarom is ons optimisties dat hierdie appèlaansoek sal slaag. Dit is veral relevant om te weet watter pryse buurlande vir die elektrisiteit betaal wat Eskom aan hulle verskaf, asook die prys van verwante dienste en betalingsvoorwaardes. AfriForum sal voortgaan om vir deursigtigheid in Eskom se besigheidspraktyke en energie-sekerheid in Suid-Afrika te baklei,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van plaaslikeregeringsake.

Soortgelyke plasings