|

AfriForum verleen hulp aan wetstoepassers tydens onrus in Pretoria

AfriForum se gemeenskapsveiligheid-afdeling, het die afgelope week wetstoepassers bygestaan tydens geweldadige protesaksie wat in die weste van Pretoria uitgebreek het.

Inwoners van die Gomorrah-informele nedersetting is ontstoke omdat hul eise oor dienslewering nog nie toegestaan is nie. Gemeenskapslede het nabygeleë buurte soos Booysens ingevaar en huise en eiendom verniel.

AfriForum het op versoek van die Tshwane-metro hommeltuie ontplooi in die gebiede wat die ergste geraak is.

Die gebruik van die hommeltuie het wetstoepassers ’n duidelike en regstreekse prentjie gegee van wat die situasie in die breër gebied is, en sodoende kon hulle die betogers voorspring in verskeie areas.

“Wanneer gemeenskappe so erg ontwrig raak deur geweldadige protesaksie, is dit baie belangrik vir alle rolspelers om saam te staan om ’n gemeenskaplike doel te bereik. Hierdie was een van daardie gevalle waar ons ons hulpbronne effektief kon saamsnoer om die situasie suksesvol onder beheer te hou,” sê Llewellynn Hemmens, AfriForum se hoof van veiligheid vir die Noordstreek.

“AfriForum bied gereeld ondersteuning aan wetstoepassers landswyd om misdaad te help bekamp en ons het al telkemale gesien hoe effektief hierdie samewerking kan wees. Ons 155 buurtwagte landswyd, en die ongeveer tienduisend opgeleide vrywilligers werk ook baie goed saam met die polisie en ander owerhede om hul gemeenskappe te beveilig,” sê Jacques Broodryk, veldtogtebestuurder by AfriForum.

Om betrokke te raak by jou naaste AfriForum-buurtwag, besoek www.afriforumbuurtwag.co.za.

Soortgelyke plasings