|

Kamieskroon-tak vervang stoptekens voor gewilde blomtyd

Die AfriForum-tak in Kamieskroon het op 18 Julie nuwe stoptekens by die hoofingange en strate van dié dorp opgerig om die stopstrate meer sigbaar te maak vir motoriste. Die ou stoptekens is die afgelope 22 jaar nog nie een keer vervang nie en het in die son verblyk, terwyl daar ook stopborde is wat wees vandalisme weggeraak het.

Hierdie inisiatief is uitgevoer voordat die nuwe Namakwaland se blomme in die Kamiesberge en Springbok-omgewing hul verskyning maak en is deel van die organisasie se #OnsDorp-projek. Die blomtyd begin in Augustus en duur vir sowat drie maande.

Kamieskroon is ’n klein dorpie in die Kamiesberge wat bykans in die middel van die Namakwaland geleë is. Kamieskroon maak staat op toeriste wat net gedurende blomtyd hier besoek aflê en dan is dit ’n skildery van mooi berge en blomme. Hierdie dorp is ook afhanklik van die inkomste wat in hierdie tydperk gegenereer word.

“Die Kamiesberg Plaaslike Munisipalitet versuim om na ons eens mooie dorpe om te sien en só gaan alles agteruit. Daar is spanne mense wat ook daagliks die dorp skoonmaak en die vullis na die vullisterein wegry,” sê Gideon van Lill, voorsitter van die Kamieskroon-tak.

“Kamieskroon se grondpaaie is ook in ’n haglike toestand. Die munisipale bestuurder hou hom doof as ’n mens vra om die strate te skraap en weer al die gate in die dorp se paaie te herstel.”

AfriForum moedig die gemeenskap aan om betrokke te raak by AfriForum om sodoende druk op die regering te plaas om hul verpligtinge teenoor die gemeenskap na te kom: SMS “Kamieskroon” na 45344 (R1) om by hierdie tak aan te sluit.

Soortgelyke plasings