|

AfriForum se Bo-Karoo-tak maak leerders touwys oor waterveiligheid

AfriForum se Bo-Karoo-tak in Orania het op 3 Maart 2022 hul veldtog oor waterveiligheid, wat in samewerking met Orania Veiligheidsdienste (OVD) aangebied is, by Volkskool Orania afgesluit. Dié tak het aan die begin van die jaar toe die vloede begin het, inligtingstukke oor waterveiligheid en die gevare van in die rivier swem wanneer dit in vloed is by verskeie skole versprei en praatjies is by Orania CVO-skool en Volkskool Orania aangebied.

Die tak wil kinders met die nodige inligting bemagtig sodat hulle ingeligte besluite kan maak en hulleself of ander nie in gevaarlike situasies plaas nie.

“Met so baie verdrinkings en die stygende riviervlakke in ons omgewing, het die tak dit goed gedink om ons kinders bewus te maak van die gevare van ’n rivier in vloed, asook waterveiligheid oor die algemeen. Kinders in ons omgewing is ‘mak’ vir die rivier, maar besef nie in watter moeilikheid hulle kan beland en dat dit hulle lewe kan kos nie,” sê Magdaleen Kleynhans, voorsitter van AfriForum se Bo Karoo-tak.

“Water is op enige gegewe oomblik ’n groot trekpleister. Dit is egter belangrik om te onthou dat water of enige natuur element ’n gevaar kan inhou. Daarom is reëls en bewusmaking oor waterveiligheid baie belangrik. ’n Prettige dag kan vining in ’n nagmerrie ontaard indien daar nie ag geslaan word op reëls nie,” sê Ettiene de Lange, hoof van Orania Veiligheidsdienste.

Sluit vandag nog by AfriForum se Bo Karoo-tak aan om ons hande te versterk: SMS “Bo-Karoo” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings