|

AfriForum-verslag: Brutaliteit van plaasmoorde neem nie af nie

AfriForum se jaarlikse plaasmoordverslag is vandag bekendgestel en alhoewel daar ’n afname in aangemelde gevalle was, toon die 2022-verslag dat die brutaliteit van aanvalle glad nie afgeneem het nie.

“Daar is geen afname in die brutaliteit van plaasaanvalle en -moorde nie. Mense word nie net een keer geskiet nie, maar herhaaldelik. In ander gevalle is mense aangerand en op die toneel of later in die hospitaal dood. Slagoffers is ook tydens plaasaanvalle doodgewurg, verbrand of gesteek,” sê Johan Nortjé, navorser by AfriForum.

AfriForum se navorsing toon ook dat sommige slagoffers gemartel is. AfriForum kon 333 aanvalle in 2022 verifieer, wat 50 moorde ingesluit het. Alhoewel dit ’n afname van 2021 se 415 aanvalle en 55 moorde is, meen Nortjé die laer syfer is toe te skryf  aan slagoffers wat minder geneig is om plaasaanvalle by die polisie aan te meld. Ernst Roets, bestuurshoof vir Strategie by AfriForum, het ook hierdie tendens tydens navorsing vir sy boek Kill the Boer waargeneem.

“Daar is baie slagoffers wat nie plaasaanvalle by die polisie aanmeld nie omrede hulle meen niks gaan in elk geval daaraan gedoen word nie. Hulle verkies om eerder met hul privaat sekuriteitsmaatskappye of buurtwagte insluitend die van AfriForum kontak te maak as daar ’n insident is,” sê Roets.

Roets sê plaasmoorde word al hoe meer deur die internasionale gemeenskap raakgesien. Hy het verlede jaar in die VSA ’n praatjie gelewer oor die stand van sake in Suid-Afrika en ook oor plaasmoorde. Roets gaan vanjaar ’n soortgelyke praatjie in Hongarye lewer waar die aanvraag vir sy boek so groot is dat dit in Hongaars vertaal is.

Luidens die verslag kom die meeste plaasaanvalle in Gauteng voor. Daar was 81 aanvalle en agt moorde in dié provinsie in 2022. Die Noord-Kaap het die laagste syfer gehad met ses aanvalle waartydens vier mense vermoor is. Die meeste plaasmoorde vind tussen 18:00 en middernag plaas, maar daar is ook ’n hoë aantal gevalle tussen 09:00 en 11:59 aangemeld. Amper 50% van moorde het op Woensdae en Donderdae plaasgevind.

Meer as 50% van plaasmoordslagoffers is ouer as 60 en meer as 60% is mans. Elizabeth Lee (89) was die oudste slagoffer en is deur ’n vyftienjarige verdagte met ’n stoel doodgeslaan. Rhudie Binta (17) was die jongste slagoffer wat tydens ’n aanval saam met sy ma en vyf ander slagoffers doodgeskiet is.

Nie net is dit ’n tragedie hoeveel plaasmoorde in Suid-Afrika plaasvind nie, maar die situasie word selfs vererger deurdat net 33% van misdadigers verlede jaar in verband met dié moorde in hegtenis geneem is. Waar verdagtes wel aangekeer word, is bevind dat dit binne 48 uur ná die aanval plaasgevind het.

Nortjé en Roets is dit eens dat voorkomende stappe die beste manier is om plase te beveilig. “Wees op die uitkyk vir enige ongewone mense of gebeure op jou plaas. Wees paraat en maak seker jy het goeie veiligheidstelsels in plek. Navorsing toon dat sigbare patrollies een van die beste maniere is om boosdoeners af te skrik,” sê Roets.

Nortjé sê betrokkenheid by ’n mens se plaaslike gemeenskap is ook belangrik om te verhoed dat jy ’n slagoffer word. “Raak betrokke by veiligheidstrukture en vra vir hulp. AfriForum het verskeie strukture waaronder plaas- en buurtwagte in plek om te help met opleiding, toerusting en dies meer. Daar is ook AfriForum se trauma-eenheid wat slagoffers ná aanvalle kan ondersteun.”

Lees die verslag hieronder.

Soortgelyke plasings