|

AfriForum verwelkom besluit om tydperk vir kommentaar op onderwyswetsontwerp te verleng

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die besluit van die portefeuljekomitee vir Basiese Onderwys om die tydperk vir skriftelike kommentaar op die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (beter bekend as die BELA-wet) tot 15 Augustus 2022 verleng, verwelkom. Volgens die komitee is verskeie versoeke ontvang vir ’n verlenging van die sperdatum, wat 15 Junie 2022 was.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het AfriForum reeds sy kommentaar op 14 Junie 2022 ingedien. “Tog is die wysigings wat hierdie konsepwet voorstel só ingrypend dat meer tyd vir belanghebbers om daarop te reageer, goed is,” het sy gesê.

AfriForum het op 22 Junie 2022 die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, versoek om die konsepwet so gou as moontlik terug te trek in die lig van uitlatings van die Gautengse LUR vir Onderwys, Panyaza Lesufi. Hy het dit duidelik gemaak dat hy die konsepwet voorstaan omdat dit gebruik kan word om skole wat Afrikaanse onderrig aanbied, finaal te vernietig.

“Die voorstelle in die konsepwet wat oor die besluitnemingsmagte met betrekking tot skole se toelatings- en taalbeleid handel, sou dit inderdaad moontlik maak en daarom moedig ons alle lede van die publiek, wat nog nie teen die wetsontwerp standpunt ingeneem het nie, aan om dit nou te doen,” het Bailey bygevoeg.

Die aanlyn petisie wat deur AfriForum geloods is om steun teen die wetsontwerp te verkry, sal nou ook weer geaktiveer word, sodat mense ook langs hierdie weg hulle stem teen die konsepwet kan laat hoor. Dit is by www.redafrikaans.co.za beskikbaar.

Soortgelyke plasings