Geliefde skrywer se stem leef voort in laaste boek

Die bekendstelling van een van die Vrystaat se “grootste” Afrikaanse skrywers, J.C. Steyn, se laaste boek So is onse mense was ’n viering van dié skrywer se lewe en werk. Die geleentheid het die afgelope Vrydag (26 Augustus) by die Fichardtpark-biblioteek in Bloemfontein plaasgevind. Volgens Charles Smith, nuushoof van die Vrystaatse dagblad, Volksblad, kan Steyn en die mede-Vrystater wyle Karel Schoeman gereken word as twee van die “grootste Afrikaanse skrywers”.

So is onse mense is die derde boek uit Steyn se pen wat deur AfriForum Uitgewers (en die uitgewer se voorganger Kraal Uitgewers) uitgegee is. Dit is ’n versameling “herbesoeke” wat Steyn se vernuf as kultuurhistorikus, kampvegter vir Afrikaans en biograaf met ’n uitsonderlike fyn waarnemingsvermoë ten toon stel. Hierin stel Steyn onder meer ondersoek in na die laaste dramatiese dae van die Anglo-Boereoorlog; hy herontdek die lewe van J.D. Kestell, die man wat liefderik in die volksmond as Vader Kestell bekend gestaan het; loop die pad tot by die manne en vroue van die Vrouemonument, die Brandwaterkom (Steyn se grootword-wêreld), Afrikaans se bittere negentigste verjaarsdag, en verskeie ander outobiografiese vertellings oor mense en dinge wat hom inniglik geboei het.

Dr. Johan van Zÿl (senior vakkundige van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke), Smith, Marthie Kemp (Steyn se susterskind) en Wyno Simes (kurator van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum, NALN) het tydens die bekendstelling Steyn se lewe, werk en sy laaste boek bespreek.

Volgens Van Zÿl maak So is onse mense ’n uitsonderlike bydrae tot die verbreding van die historiografie van die Anglo-Boereoorlog, een van die belangrikste momente in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Smith het op sy beurt ’n blik gebied op Steyn se lewe en werk as joernalis van die Volksblad en in later jare as gereelde kommentator oor veral taalaangeleenthede in dié blad. Steyn was vanaf Januarie 1959 verbonde aan dié dagblad se redaksie as vertaler, verslaggewer, subredakteur en hoofsub. Smith het die hoop uitgespreek dat Steyn se werk, soos dié van Schoeman, ná sy dood verder vereer sal word. “Sy versameling, sy kennis en sy woorde is ongelooflik en het by die Volksblad begin,” het Smith gesê.

Steyn se susterskind, Kemp, het ’n meer persoonlike sy van “Oom Japie”, soos sy hom geken het, blootgelê en bygevoeg tot die outobiografiese hoofstukke in So is onse mense waarin Steyn onder meer oor sy familie en sy lewe as kind van die Brandwaterkom geskryf het. “As u dink dat Oom Japie nie ’n sportman was nie, is u verkeerd,” het Kemp vertel. Steyn het blykbaar op skool vir die eerste rugbyspan van Hoërskool J.A. Malherbe op Petrus Steyn uitgedraf, en het dikwels ná ’n wedstryd die tien myl van die skool na die gesin se plaas te voet afgelê. Hy het ook op universiteit as atleet aan die myl deelgeneem.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum en voorsitter van die AfriForum Uitgewers-direksie, het benadruk dat AfriForum Uitgewers bevoorreg is om Steyn se laaste boek die lig te laat sien en te kan help toesien dat Steyn se werk vir die nageslag behoue bly.

So is onse mense is nou beskikbaar by AfriForum Uitgewers. Besoek die aanlyn winkel by www.afriforumuitgewers.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings