|

AfriForum vol lof vir SAPD ná deurbraak in Senzo Meyiwa-moord en samewerking tydens ondersoek 

AfriForum, wat die Meyiwa-familie in die ondersoek na die moord op die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa verteenwoordig, het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) geloof vir die deurbraak in dié moordondersoek, asook die feit dat die SAPD die afgelope paar maande bereid was om adv. Gerrie Nel en AfriForum se privaatvervolgingseenheid by die ondersoek te betrek.

AfriForum se reaksie volg nadat die SAPD vandag vyf verdagtes in hegtenis geneem het vir die moord op die 27-jarige Meyiwa. Meyiwa is ses jaar gelede, op 26 Oktober 2014, in ’n huis in Vosloorus doodgeskiet. Die verdagtes verskyn môre, 27 Oktober, in die Landdroshof in Boksburg. Sifiso Meyiwa, broer van Senzo, het vandag in Pretoria saam met AfriForum aan ’n mediakonferensie oor die saak deelgeneem en sal ook môre se hofverskyning saam met adv. Nel bywoon.

“AfriForum se betrokkenheid by hierdie saak het onder meer gelei tot die verskuiwing van die saak vanaf die Direkteur van Openbare Vervolgings (DOV) Johannesburg na die DOV Pretoria, wat beteken het dat daar uiteindelik op die sleutelelemente van die saak gefokus kon word. Die privaatondersoekeenheid het ook hulle ontevredenheid met die samestelling van die SAPD-ondersoekspan onder die aandag van polisiebestuur gebring en nadat sekere veranderinge in die span aangebring is, kon die ondersoek vorder,” sê adv. Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die ondersoekspan het ’n volle uiteensetting van die feite aan AfriForum se privaatvervolgingseenheid gegee en adv. Nel het die ondersoekspan gekomplimenteer vir hul deeglike ondersoek. “Ons weet nou dat dit nie ’n rooftog is wat verkeerd geloop het nie en dat dit in der waarheid ’n sluipmoord was. Die uitdaging is nou om die meesterbrein agter die sameswering tot verantwoording te roep,” sê adv. Nel.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verdien die Meyiwa-familie en Senzo Meyiwa se ondersteuners om te sien dat geregtigheid geskied vir die moord. “Die arrestasie van die verdagtes is die begin van die proses om geregtigheid te laat geskied en AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal aanhou om die Meyiwa-familie in die saak by te staan,” sê Kriel. Volgens hom is die konstruktiewe samewerking tussen die SAPD en AfriForum in hierdie geval ook ’n voorbeeld van wat bereik kan word as die SAPD en die burgerlike samelewing saamwerk in die stryd teen misdaad.

Senzo Meyiwa se broer, Sifiso, het namens die Meyiwa-familie sy dank teenoor die SAPD en AfriForum uitgespreek met die vordering in die saak. “Hoewel ons dankbaar is oor die arrestasies, is ons bekommerd oor die feit dat die meesterbrein nog nie vasgetrek is nie. Gesien in die lig van die bewese samewerking tussen ons regspan van AfriForum en die SAPD, bly ons steeds vol hoop dat meer inhegtenisnemings gaan volg,” sê Meyiwa.

Soortgelyke plasings