|

AfriForum Wêreldwyd hou kuieroggend vir ouers met kinders in buiteland

AfriForum Wêreldwyd hou sedert AfriForum se ontstaan kontak met Suid-Afrikaners in die buiteland. Emigrasie het die afgelope jare ’n werklikheid geword en so baie ouers en grootouers het in die land agtergebly toe hul kinders en kleinkinders ge-emigreer het.

“Wanneer jy die woord emigrasie hoor, dink ’n mens eerste aan iemand wat die land verlaat en selde aan die geliefdes wat agterbly. Emigrasie is nie net ’n lewensveranderende werklikheid vir die kind wat emigreer nie, maar ook vir die mense wat agterbly,” sê Sue-Ann de Wet, hoof van diaspora by AfriForum.

Juis daarom het AfriForum Wêreldwyd besluit om op 7 Desember ’n kuieroggend vir ouers en grootouers met geliefdes te hou. Douline Minnaar, ’n psigiatriese verpleegkundige, is die gasspreker van die oggend.

Minnaar begelei tans mense met kroniese mediese toestande emosioneel en verduidelik inligting aan die pasiënt waarvoor ’n dokter nie altyd tyd het nie. Sy sê dit bly ’n voorreg om berading te doen met ouers wie se kinders in die buiteland woon en werk.

Volgens De Wet is hierdie kuieroggend ook die ideale geleentheid om ’n ondersteuningsnetwerk te vorm met mense wat ook geliefdes in die buiteland het en kan hierdie netwerk help met die groot aanpassing en emosionele wipwarit.

Van die vrae wat kundiges wat die oggend bywoon mee sal help, is onder meer hoe moet emigrasie benader word, hoe bly ’n mens betrokke as hulle (jou kinders of kleinkinders) in ’n ander land woon, hoe hanteer ’n mens die nuwe werklikheid, wat doen ’n mens om die verlange te hanteer en moet alles prysgegee word om by hulle te gaan woon?

Diegene wat die oggend bywoon kan ook hulle wenke en vrae met die ander ouers deel.

Hierdie kuieroggend vind om 09:00 vir 9:30 by die Irene Country Lodge in Pretoria plaas. Beperkte sitplek is beskikbaar. Klik hier en bespreek voor of op 24 November jou plek.

Soortgelyke plasings