|

AfriForum woon openbare verhoor in Rustenburg by om Bela-wet teen te staan

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 10 Maart om 14:30 die openbare verhoor vir die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (bekend as die Bela-wetsontwerp) bygewoon. AfriForum is teen die voorgestelde wetsontwerp en het ’n voorlegging by die verhoor gelewer.

Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico het die verhoor bygewoon en beklemtoon dat die verplasing van finale besluitneming oor skole van skoolbeheerliggame na provinsiale onderwyshoofde, onaanvaarbaar is en kan lei tot ’n afname in kwaliteit van onderrig, veral vir Afrikaanse skole. Dit beteken dat daar ’n toenemende magsentralisasie in die hande van die staat sal wees, iets waarteen AfriForum kragtig staan.

AfriForum is verder besorg oor die wetsontwerp se bepalings waar die provinsiale onderwyshoofde die finale sê oor skole se taal- en toelatingsbeleid sal hê. Hierdie bepalings beteken dat daar ’n einde aan Afrikaanse skole kan kom. Dit kan ook lei tot voller klasse en ’n afname in die kwaliteit van onderrig.

AfriForum is verder bekommerd oor die bepalings in die wetsontwerp wat bots met die Grondwet, bestaande wetgewing en uitsprake van die Konstitusionele Hof. Hierdie bepalings kan lei tot ’n hofsaak teen die wetsontwerp wat net meer belastinggeld sal mors.

AfriForum glo dat skoolbeheerliggame as demokraties verkose verteenwoordigers van ouers, leerders en plaaslike skoolgemeenskappe die beste in staat is om die behoeftes van hul skole te bepaal. Kwessies soos die taalbeleid en toelatingsvereistes moet die behoeftes van die gemeenskap dien, nie ’n sentrale regeringsverteenwoordiger wat dikwels ’n politieke agenda dryf nie.

AfriForum is teen die aanvaarding van die wysigingswetsontwerp gekant en moedig gemeenskappe aan om ook die wet teen te staan.

“Een van die grootste uitdagings vir Suid-Afrika is die kwaliteit van ons onderwys. Ons kan nie toelaat dat die regerende party dit ondermyn nie,” sê Armand Viljoen, distrikskoördineerder vir Marico.

SMS: “Jou naam” na 45350 (R1) om by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings