|

Afrikaner- en Ndebele-organisasies onderteken historiese ooreenkoms

Die Ndebele-organisasie Vulamehlo Kusile Organisation (VUKO) en die Afrikanerorganisasie AfriForum het vandag ’n historiese erkennings- en samewerkingsooreenkoms onderteken tydens die jaarlikse Ingwenyama Nyabela-herdenking by KoNomtjharelo, die koninklike hoofkwartier van die Ndzundza-volk naby Roossenekal in Limpopo. Die organisasies het ook aangekondig dat hulle sal saamwerk met die bewaring van dié gebied met sy beduidende historiese en erfeniswaarde met die doel om kulturele identiteit te versterk en kennis van die geskiedenis onder veral die jeug te bevorder.

“Die ondertekening van hierdie erkennings- en samewerkingsooreenkoms in die jaar waarin die Ndzundza 140 jaar gedenk sedert die tweede oorlog met die toenmalige Zuid-Afrikaansche Republiek en sy bondgenote, is betekenisvol. Ons eer ons voorouers wat alles gedoen het wat hulle kon om te verseker dat ons as ’n kultuurgemeenskap hier in suidelike Afrika kan bestaan. Danksy hul opofferings en volharding is ons steeds vandag hier. Ons raak egter nie verstrengel in die verlede nie; ons gebruik ons geskiedenis en erfenis as ’n inspirasie en fondasie waarop die toekoms gebou word. Talle uitdagings staar kultuurgemeenskappe in suidelike Afrika in die gesig. Dit sal makliker wees om dit te oorkom as ons saamwerk; dit is waarom ons hierdie ooreenkoms met AfriForum onderteken het,” sê Elias Mahlangu, direksievoorsitter van VUKO.   

“AfriForum werk aan die vestiging van ’n netwerk van kultuurgemeenskappe, gebaseer op wedersydse erkenning en respek, wat kan saamwerk om gedeelde uitdagings te oorkom. ’n Nuwe orde gegrond op gemeenskapsfederalisme neem vorm aan op voetsoolvlak. Dit skep vir kultuurgemeenskappe die ruimte om samewerkend die toekoms te vorm wat ons wil hê vir die kinders van ons gemeenskappe hier aan die suidpunt van Afrika. Dit was ’n voorreg om ’n erkennings- en samewerkingsooreenkoms te onderteken op ’n tyd en ’n plek wat soveel kulturele en historiese betekenis dra,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

Die doel van die ooreenkoms is om ’n blywende verhouding te vestig en te onderhou met die hoop om ewigdurende vrede en vriendskap te verseker tussen die kultuurgemeenskappe wat deur die organisasies verteenwoordig word, en om hul ontwikkeling te bevorder deur middel van onder meer die volgende:

  • bewaring en beskerming van kulturele identiteit en erfenis;
  • bevordering van gemeenskapselfstandigheid en selfbestuur;
  • bevordering van interkulturele rekonsiliasie en dialoog; en
  • bevordering van moedertaalonderrig.

Die volgende beginsels vorm die basis van die ooreenkoms:

  • wedersydse erkenning en respek;
  • vreedsame naasbestaan;
  • aanvaarding van mekaar se identiteit, blywendheid en bestaan as outonome kultuurgemeenskappe;
  • die voorreg van kultuurgemeenskappe om hul eie sake te bestuur en te vestig en om hul eie instellings te onderhou sonder inmenging van die staat of enige ander entiteit;
  • respek vir die diversiteit van beherende instellings, gebruike en gewoontes, insluitende dié wat verband hou met grondgebruik en -besit; en
  • vryheid van geloof en geloofs- en kulturele gebruike.

“AfriForum en die VUKO het al voorheen saamgewerk op kwessies wat verband hou met taal- en kulturele identiteit. Die formalisering van ons samewerking is nog ’n tree vorentoe. Ons benadering in die vestiging van die toekoms wat ons wil hê, is kenmerkend van ons leuse, ‘Kuvuswa Ezivusako’, wat vertaal kan word as ‘hulp kon na hulle wat hulself help’,” sluit Mahlangu af.

Soortgelyke plasings