AfriSake en AfriForum neem aksie teen Malema en die EFF


AfriSake en AfriForum het uiteindelik ’n hofdatum verkry om ’n hofinterdik teen die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) en sy leier Julius Malema af te dwing.
Die sakeregtewaghond en burgerregte-organisasie het dié interdik op 7 Maart 2017 bekom ten einde die EFF en sy omstrede leier te verhoed om die publiek aan te hits om misdade in die vorm van onwettige grondbetreding en -besetting te pleeg.
Die interdik is nie deur die EFF of Malema teengestaan nie, maar kort nadat die hof dit toegestaan het, het die respondente ’n aansoek om tersydestelling gebring wat in effek die afdwingbaarheid van die interdik op ys plaas totdat die saak deur ’n hof aangehoor en beslis word. Die tersydestellingsaansoek sal op 11 September 2017 geargumenteer word waartydens die interdik óf tersyde gestel óf afgedwing sal word.
Tydens die EFF se vierde verjaarsdagvieringe die afgelope naweek in Durban is Malema weer eens aangehaal waar hy swart mense openlik aangemoedig het om wit mense se grond te gryp. AfriSake en AfriForum is dit eens dat Malema verantwoording moet doen vir hierdie onverantwoordelike opmerkings.

“Dit is betreurenswaardig dat Malema aanhou om onwettige grondbesetting aan te moedig, maar dit is iets wat ons as organisasie nie sal duld nie. Die Grondwet waarborg die beskerming van eiendomsreg binne die Republiek van Suid-Afrika en enigeen wat poog om hierdie reg te ondermyn, moet aan die pen ry. Ons sien daarna uit om Malema en die EFF se argumente in hierdie saak te hoor, aangesien daar geen regverdigbare rede vir die tersydestellingsaansoek in hul hofstukke is nie,” sê Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake.

Soortgelyke plasings