|

AfriForum bied dieregesondheidshulp aan SAPD ná epidemie

AfriForum het sy bereidwilligheid in ’n brief aan die nasionale polisiekommissaris te kenne gegee om dringend ’n deskundige aan te stel om ’n behoorlike oudit van die gesondheids- en leefomstandighede by die Roodeplaat-hondeteeleenheid in Pretoria te doen. 71 honde is by dié teeleenheid dood nadat die parvovirus – beter bekend as katgriep – daar uitgebreek het.

Indien die SAPD nie van dié hulp gebruik wil maak nie, sal AfriForum stappe oorweeg om die SAPD te dwing om verdere voorkombare dierevrektes by SAPD-eenhede te voorkom.

Brig. Vish Naidoo, ’n SAPD-woordvoerder, het gesê dat ’n ondersoek na die gebeure van stapel gestuur is om te bepaal of enigeen wat verantwoordelik is vir die versorging van die honde en fasiliteite nalatig was. Naidoo het ook bevestig dat daar reeds op 5 September 2019 kennis van die uitbreek van die virus geneem is.

AfriForum was geskok toe die SAPD onlangs aangedui het dat dit nie in staat is om aan sy grondwetlike mandaat te voldoen om onder meer die veiligheid van landsburgers te verseker en misdaad na behore te bestry nie. Boonop is daar ’n tekort aan ammunisie wat die SAPD noop om polisiebeamptes – wat eintlik misdaad moet bestry – te onttrek en tot kantoorwerk te beperk. Die SAPD het ook onlangs verneem dat hul begroting oor die volgende drie jaar met etlike miljarde rande gesnoei gaan word. Ondanks dié benarde toestand blyk dit egter dat die SAPD versuim om sy bestaande hulpbronne optimaal te benut, te onderhou en teen verwaarlosing te beskerm. Die polisiereserviste, wat hulle dienste kosteloos aan die SAPD beskikbaar stel, word byvoorbeeld nie na behore aangewend nie. Die getal reserviste het van 63 592 lede in 2010 gedaal na 8 908 in 2019. Die dood van die 71 honde by die Roodeplaat-hondeteeleenheid dui ook daarop dat die SAPD nie na behore na sy hulpbronne kan omsien nie.

“Die vrektes, wat met voorkomende optrede en gebeurlikheidsbeplanning voorkom kon word, asook die huidige toedrag van sake in die SAPD, het ’n bitter nasmaak in die mond. Ons hoop van harte dat die SAPD AfriForum sal toelaat om die nodige hulp te lewer met onder meer die Roodeplaat-geval om ’n herhaling van soortgelyke tragedies te voorkom,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

SMS “hondehulp” na 45353 (R1) indien jy AfriForum wil help om polisiediere se welstand te verbeter en verdere deskundige hulp aan die SAPD beskikbaar te stel.

Soortgelyke plasings