|

Apiesrivier-buurtwag ry wêreld (oftewel 395 km daarvan) plat tydens massapatrollie

AfriForum se Apiesrivier-buurtwag het vroeër vandeesmaand ’n massapatrollie gehou waarby 30 gemeenskapslede betrokke was. Dié lede het meer as 93 manure bestee en 395 km afgelê om deur die strate van dié gebied te ry. Die buurtwag het in samewerking met talle ander veiligheidsrolspelers dele van onder meer Vastfontein, Grootvlei-Oos en Kromdraai gepatrolleer.

“Dit is vir AfriForum van kardinale belang om sigbaarheidspatrollies te doen om die veiligheid van die gemeenskap te bevorder en kriminele aktiwiteite hok te slaan,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord. “Die patrolleerders het aan al die vereiste regulasies voldoen en binne die raamwerk van die wet opgetree. Gelukkig was daar geen insidente tydens dié dae-lange patrollie nie.”

AfriForum se Apiesrivier-tak het tydens die patrollie ook die nodige instellings gedoen sodat diegene wat op AfriForum se herhaler is effektief met mekaar kan kommunikeer. Hierdie soort patrollies word maandeliks deur AfriForum se Apiesrivier-buurtwag gedoen om misdaad in die gebied te bekamp, terwyl die gemeenskap se radio’s op ’n jaarlikse basis ingestel word.

“AfriForum se Apiesrivier-buurtwag doen ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak en self hul veiligheid te prioritiseer. Raak betrokke en sluit vandag nog by die Apiesrivier-buurtwag aan om deel van die oplossing te word,” sluit Steinberg af.

Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting oor AfriForum se Apiesrivier-tak of kontak  Colleen Gerber (sekretaresse) by 066 531 0319, Renata Taljaard (voorsitter) by 083 545 0319 of Kobus Coetzer (buurtwagleier) by 072 899 0788 om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings