| | |

Ballito-voorval: Munisipaliteit weier inligting vir AfriForum-ondersoek

AfriForum se privaatvervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel verteenwoordig tans inwoners van Ballito wat onder munisipale vredesbeamptes van die KwaDukuza Munisipaliteit se onbillike en arbitrêre optrede deurgeloop het. AfriForum het reeds in Mei versoek dat dié munisipaliteit die ondersoekverslag van die interne ondersoek na die beamptes se optrede (wat bevind het dat hulle niks verkeerd gedoen het nie) beskikbaar stel, maar die munisipaliteit weier steeds om dit te doen.

Beeldmateriaal het vroeër op sosiale media die rondte gedoen waar twee beamptes ’n vierjarige kind teen die wil van sy pa hanteer. Volgens AfriForum se kliënte wat by die voorval betrokke was, het die munisipaliteit nooit hul weergawes van die voorval bekom toe die interne ondersoek gedoen is nie.

Die munisipaliteit reageer ook nie in sy skrywe op AfriForum se navrae oor die vredesbeamptes se versuim om maskers te dra en die handhawing van ’n redelike sosiale afstand in die uitvoering van hul pligte nie.

AfriForum se versoek was baie duidelik. Daar is nie van die munisipaliteit verwag om ’n ondersoek te hou nie, maar om slegs die inligting te verskaf waarop die inwoners reeds deur die munisipaliteit in die publieke domein verhoor en skuldig bevind is.

Dit bly steeds ’n onbeantwoorde vraag of die vredesbeamptes by magte was om 11 mense te arresteer binne die raamwerk en voorskrifte van die Strafprosesregwet aangesien die munisipaliteit se eie mediaverklaring meld dat die vredesbeamptes by Die Shaka’s Rock-getypoel opgedaag het en mense waargeneem het wat by die strand was.

Volgens Natasha Venter, AfriForum se woordvoerder vir dié saak, kan die munisipaliteit eenvoudig nie staatmaak op hul bewering dat die voorval sub judice is en hulle daarom geen inligting bekend mag maak nie. “Die vraag of daar strafregtelike klagtes teen die inwoners ingedien is, het geen invloed op die ondersoek na die vredesbeamptes se beweerde onbillike en arbitrêre optrede nie.”

“AfriForum tree nie hier namens geharde misdadigers op nie, maar gewone belastingbetalers wat gekonfronteer was met irrasionele besluite en wetstoepassers wat buite die raamwerk van hul mandaat opgetree het. Ons sal aanhou druk op die munisipaliteit toepas om te verseker dat ons die nodige inligting bekom om die ondersoek af te handel, sodat verantwoordelike partye vir hul optrede aanspreeklik gehou word,” sluit Venter af.

Soortgelyke plasings