|

Basta met boelies! AfriForum bemagtig Laerskool Krugersdorp-Noord tydens Nasionale Kinderbeskermingsweek

AfriForum se teenboelieveldtogspan en sy gelukbringer, Matteus, het Maandag besoek afgelê by Laerskool Krugersdorp-Noord en daartydens ’n boeiende boodskap teen boeliegedrag aan 970 leerders oorgedra. Dié gesprek vorm deel van Nasionale Kinderbeskermingsweek, wat tussen 29 Mei en 5 Junie gehou word om bewusmaking oor kinders se regte en veiligheid te skep.

Die opvoedkundige aktiwiteite wat deur AfriForum aangebied is, het dié leerders bemagtig om boeliegedrag te herken en daarteen op te staan. Wessel Lotter, departementshoof by Laerskool Krugersdorp-Noord, sê die skool is trots daarop om deel te wees van hierdie bewusmakingsweek. “Ons het die heel week ’n reeks aktiwiteite wat ons gebruik om leerders se bewustheid oor boeliegedrag te verbeter en hulle leer hoe om op te tree om boeliegedrag hok te slaan.”

AfriForum se boodskap, geïnspireer deur die konsep van die volle wapenrusting van God, het by die leerders inslag gevind. “Veilige skole bou veilige gemeenskappe, nie net nou nie, maar ook vir die toekoms. Ons wil hê elke leerder moet weet hoe om boelies te identifiseer en hul gedrag te stop,” sê Tania Scheepers, projekassistent vir onderwys by AfriForum.

Leandie Bräsler, bestuurder vir jeugleierskap by AfriForum, sê deur om boompies te buig wanneer hulle jonk is, help AfriForum om die toekoms van ons gemeenskappe te vorm. “Die afgelope sewe jaar bemagtig ons skole landwyd met hierdie veldtog. Ons skep hoop en moedig kinders aan om mekaar met respek te behandel.”

Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor die teenboelieveldtog en om die gratis teenboelie- en kuberboeliegids af te laai.

Soortgelyke plasings