| |

NGV: AfriForum-direksie onderteken resolusie om stryd te voer tot alle remedies uitgeput is

Die hoogste besluitnemende liggaam van die burgerregteorganisasie AfriForum het die organisasie daartoe verbind om die regstryd teen Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) enduit te voer. AfriForum se direksie het vanoggend ’n resolusie onderteken waarin eerstens bevestig word dat die organisasie ’n regsgeding sal instel teen die regering en tweedens onderneem word dat dié regsgeding voortgesit sal word totdat alle remedies uitgeput is.

AfriForum is een van verskeie rolspelers wat ’n regstryd teen NGV aangekondig het en beoog om dit deur middel van ’n klasaksie, tesame met ’n tussentydse aansoek om tersydestelling te doen.

Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, beteken die aanvaarding van hierdie resolusie dat AfriForum gesondheidsvryheid van Suid-Afrikaners beskou as ’n beginselkwessie. “Dit beteken dat AfriForum nie sal ophou met die stryd teen NGV nie, selfs al duur dit jare.”

“Die feit dat President Cyril Ramaphosa twee weke voor die verkiesing só ’n groot openbare seremonie gemaak het van die bekragtiging van die wetsontwerp en tydens die geleentheid nie kans gesien het om self medianavrae te behartig nie, laat AfriForum wonder of hy enigsins ’n goeie begrip het van die potensiële impak van NGV. AfriForum is juis so toegewyd tot hierdie stryd teen NGV, want ons het die wetsontwerp deeglik bestudeer en verstaan in diepte die gevare daarvan,” sluit Boshoff af.

Soortgelyke plasings