|

Benoni-tak ruim paaie op ná erge reënstorms

Die AfriForum-tak in Benoni het vroeër vandeesmaand ingespring en paaie opgeruim nadat hewige reënbuie verwoesting gesaai het in hierdie Oos-Randse dorp. Hierdie aksie het op 6 en 7 Januarie 2023 plaasgevind nadat bome onder meer in paaie en op voertuie omgeval het.

Spanne is ontplooi en AfriForum-taklede het in samewerking met plaaslike veiligheidsmaatskappye die verkeersvloei so gou moontlik herstel. Sowat 23 lede is met agt kettingsae toegerus om die bome wat paaie versper het, op te saag en te verwyder.

Twaalf bome is tydens die aksie in die volgende paaie verwyder: Sunnysidelaan, Edwardstraat, Brightstraat, Victorialaan, Woburnlaan, Cranbournelaan, Wootenstraat, Howardlaan en Harpurlaan.

“Dit is vir AfriForum belangrik dat gemeenskapstrukture weet hoe om in noodsituasies op te tree om hulself en die gemeenskap veilig en netjies te hou,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

“Samewerking tussen verskillende plaaslike strukture is uiters belangrik en suksesse soos hierdie word deur doeltreffende kommunikasie tussen die gemeenskap en rolspelers gedryf. Die sukses van hierdie aksie wys weereens die krag van die gemeenskap wat saamspan.”

Die Benoni-tak doen ’n beroep op gemeenskapslede om betrokke te raak om hulle gemeenskap te help. SMS “Benoni” na 45340 (R1) om aan te sluit en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings