Bestuurslisensie hernuwing: Nuwe probleme met land se enigste lisensie-drukmasjien beklemtoon noodsaaklikheid van AfriForum se opkomende hofsaak

Die land se enigste lisensie-drukmasjien is weereens buite werking. Hierdie nuus beklemtoon opnuut die meriete en noodsaaklikheid van AfriForum se hofsaak later vanjaar wat die verval van bestuurslisensiekaarte aanvat. Volgens die Departement van Vervoer het die masjien onklaar geraak weens ’n tegniese probleem wat vereis dat ’n part deur die oorspronklike vervaardiger vervang moet word.

AfriForum sal op 7 en 8 Augustus in die Hooggeregshof in Pretoria wees om onder meer ’n verklarende bevel te eis wat stel dat die vyfjaar geldigheidstydperk van bestuurslisensies ongrondwetlik is en dat alle boetes wat uitgereik word vir vervalde lisensies, ongrondwetlik is. 

Volgens Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, is die minste wat die regering kan doen om ’n grasietydperk toe te staan vir diegene wat nou weer slagoffers is van die regering se swak beplanning.

“Hierdie onbeholpe regering het nie eens die visie om te belê in ’n tweede drukmasjien vir lisensiekaarte nie. Ek sukkel om te glo dat die globale aanbod van hierdie noodsaaklike stuk gereedskap op nul staan. Hierdie en ander verswarende omstandighede is juis hoekom AfriForum in Augustus weereens in die bresse tree vir die publiek om motoriste te red van hierdie sirkus. Maak jou stem dik saam met ons by www.lisensiesvervalnie.co.za,” sluit Van Zyl af. 

Soortgelyke plasings