|

Bethal-tak lewer sitrusboer se nartjieskenking aan tehuise

AfriForum se Bethal-tak het op 24 Augustus ’n vrag nartjies wat deur Wessel Piso, ’n sitrusboer van Nelspruit, aan die tak geskenk is by die Palmoord-aftreeoord en Silwerjare-tehuis vir bejaardes in Bethal afgelewer.

Die tak het drie jaar gelede ’n projek van stapel gestuur om vars vrugte aan hierdie tehuise te skenk en Piso dra elke jaar tot die projek by. Die tak borg die vervoerkoste van die vrugte vanaf Nelspruit na Bethal. Vanjaar het Piso ’n bakkievrag vol nartjies vir die tehuise geskenk. Daar was selfs genoeg om aan die tehuise in Morgenzon ook te skenk.

Die gemeenskapstuin – ’n projek wat die tak ook drie jaar gelede begin het en wat tot ’n belangrike bate in die gemeenskap gegroei het – het hierdie week weereens die waarde daarvan gestand gedoen. Nagenoeg 100 kg spinasie is aan die Palmoord-aftreeoord  geskenk en ’n verdere 40 kg aan die Bethal-sopkombuis. Dít volg ná verlede week se skenking van 60 kg spinasie aan die Silwerjare-tehuis vir bejaardes.

“Die tehuise verkeer tans onder groot finansiële druk en iets soos vars vrugte is weens die stygende lewenskostes ’n luukse. Ons bedank Piso vir sy skenking wat ’n enorme verskil in die lewens van die inwoners maak,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir  die Hoëveld.

Word deel van die oplossing: Klik hier en sluit vandag nog by AfriForum se Bethal-tak aan.

Soortgelyke plasings