|

Bronkhorstspruit-buurtwag trotseer koue om buurt te beveilig

AfriForum se buurtwag in Bronkhorstspruit het weer die afgelope naweek die koue getrotseer om in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander rolspelers die buurt te beveilig. Hiertydens is talle misdaadbrandpunte gepatrolleer en twee dronkbestuurders is vasgetrek.

Die polisie- en ander veiligheidsrolspelers het Vrydag (31 Augustus) van 19:45 tot 00:00 die strate van Bronkhorstspruit vir boosdoeners gefynkam. Altesaam agt lede van AfriForum se buurtwag het gehelp om 175 mense en 49 voertuie vir dwelms en onwettige vuurwapens te deursoek. Die buurtwag het ook patrollies gery by OTM’s wat gereeld deur misdadigers geteiken word en vyf tavernes besoek om wet en orde te handhaaf.

Benewens dié patrollies het die buurtwag ook saam met die Tshwane Metropolisie die N4-snelweg gepatrolleer vir ysterpenlokvalle. Al AfriForum se buurtwagte het oor die afgelope paar maande sy patrollies op die N4 opgeskerp.

“AfriForum se Bronkhorstspruit-buurtwag word daagliks met uiteenlopende scenario’s gekonfronteer, maar die tak bly daartoe verbind om hierdie gebied vir al sy inwoners te beveilig. Die tak en sy buurtwag sal voortgaan om patrollies soos hierdie te doen en hegte bande met wetstoepassers te smee,” sê Liam Lewis, leier van AfriForum se Bronkhorstspruit-buurtwag.

Besoek www.wordlid.co.za om by AfriForum se Bronkhorstspruit-tak en -buurtwag betrokke te raak.

Soortgelyke plasings