|

Cele beskerm Ace se myndiewe

Die burgerregteorganisasie AfriForum veroordeel die onlangse optrede deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Vrystaat ten sterkste. Dit volg ná ’n boer naby Hennenman, verlede week in hegtenis geneem is nadat hy onbekende mans, wat besig was met onwettige mynaktiwiteite op sy plaas, konfronteer het. Die mans is werknemers van die mynmaatskappy Alberto Road Markings and Civils, wat sonder toestemming gruis op die boer se plaas uithaal en na bewering bande het met die omstrede voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule.

Die boer het die vermeende oortreders se voertuigsleutels en selfone afgevat terwyl hy gewag het vir die polisie om op te daag. Die polisie het egter nie ag geslaan op die kwessie oor die onwettige mynaktiwiteite nie maar vir die boer in hegtenis geneem op ’n klag van diefstal.

“Die feit dat die boer in hegtenis geneem is nadat hy die vermeende oortreders op sy plaas gekonfronteer het, is uiters onaanvaarbaar. Dit is veral verontrustend dat die boer, ondanks die feit dat hy kon bewys dat hy die eienaar van die grond is en bewyse kon lewer van die onwettige aktiwiteite, steeds op sy eie plaas in hegtenis geneem is,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Die beweerde bande tussen die maatskappy en Magashule – asook die feit dat Magashule se maatskappy, Sedtrade, ’n groot deel van die provinsiale padkontrakte gedurende sy ampstermyn ontvang het – werp ’n skadu oor die hele saak.

“Die optrede deur hierdie polisielede maak dit duidelik dat minister Cele dele van die SAPD in politieke veiligheidsbeamptes omskep het, wat korrupte politici soos Magashule en hul vennote beskerm,” sluit Broodryk af.

Soos met die onwettige stakings in die Wes-Kaap, het Bheki Cele, minister van Polisie, weereens sy rug gedraai op slagoffers van misdaad en eerder politieke vriende beskerm.

AfriForum staan bankvas agter hierdie boer en alle boere wat hulself in soortgelyke situasies bevind. Die organisasie glo in ’n regverdige en onpartydige regstelsel wat alle burgers gelyk behandel.  AfriForum sal die saak fyn dophou en ingryp as dit blyk dat daar politieke inmenging in hierdie saak is.

Soortgelyke plasings