|

Celeste Gouws: Verkragting-beskuldigde besluit om nie in sy eie verdediging te getuig nie

Ten spyte van die baie ernstige aanklag van verkragting en die privaatvervolgingseenheid wat afdoende bewyse van die misdryf gelewer het, het Isaac Andile Memese gekies om nie in sy eie verdediging te getuig nie. Sy advokaat het aan die Somerset-Oos-landdroshof gesê hy sal twee getuies roep om eerder te getuig.

Die eenheid vervolg Memese privaat namens die klaer, Celeste Gouws. Memese het Gouws na bewering in 2017 by haar gastehuis verkrag. Die Direkteur van Openbare Vervolging in die Oos-Kaap het geweier om Memese te vervolg, ondanks oorweldigende getuienis teen hom. AfriForum is van mening dat die hantering van die saak tot dusver op politieke inmenging dui aangesien Memese en sy familie politieke bande het.

Kringtelevisiebeeldmateriaal onthul in skokkende detail hoe Memese oor etlike ure talle alkoholiese drankies vir Gouws geskink het en hoe sy erg dronk raak. Op ’n stadium blyk dit dat Memese sy drankie met Gouws s’n ruil. Die aanklaer het tydens die aansoek om ontslag aangevoer dat dit moontlik ’n geleentheid was om haar drankie te dokter. Daar word gesien hoe Memese die huis verlaat saam met ’n vriend vir wie Gouws gebel het om haar te help. Op die beeldmateriaal word gesien hoe Memese teruggaan in die huis in waarna hy na bewering vir Gouws na die slaapkamer geneem het waar hy haar na bewering verkrag het. Tydens die aanklaer se saak was Memese se verweer dat hulle konsensuele seks gehad het, terwyl die klaer enige toestemming heftig ontken het.

Verdedigingsadvokaat Mike Maseti het die polisie-ondersoekbeampte, sers. Sipholelo Raula, as sy eerste getuie geroep wat getuig het dat hy glo dat daar met die beeldmateriaal gepeuter is. Tydens kruisondervraging, toe verdere feite aan hom gestel is, het hy egter toegegee dat die getuienis in die dossier nie die bewering dat daar met die beeldmateriaal gepeuter is, ondersteun nie.

Raula het ook die definisie van toestemming, soos in die Wet op Seksuele Misdrywe, aan die hof bevestig. Hierdie definisie sluit situasies uit waar die klaer nie in staat is om die aard van die seksuele daad te besef nie of in ’n bewustelose staat is – soos om onder die invloed van alkohol te wees.

Die saak is tot 5 September 2023 uitgestel sodat die verdediging ’n deskundige getuie kan roep om te getuig oor of daar moontlik gepeuter is met die videomateriaal wat deur die aanklaer aangebied is.

“Hoewel ons teleurgesteld is dat die saak weer uitgestel is, bly ons daartoe verbind om te verseker dat geregtigheid geskied en dat die irrasionele besluit van die NVG, om nie te vervolg nie, blootgelê word,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Soortgelyke plasings