|

Delmas-tak herstel polisiestasie se hekmotor ná kommer oor veiligheid

AfriForum se Delmas-tak het vandeesmaand ingespring en broodnodige herstelwerk aan die hoofhek van dié dorp se polisiestasie gedoen. Die hekmotor is al vir etlike maande buite werking. Dit het egter eers onlangs ’n ernstige veiligheidsrisiko geword toe ontstoke gemeenskapslede na die polisiestasie opgeruk het en onregmatige toegang tot sekere dele van die perseel verkry het.

Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas-tak, sê gemeenskapslede was vermoedelik ontstig oor inhegtenisnemings op die dorp en het verlede maand na die polisiestasie gegaan om beswaar aan te teken.

AfriForum se Delmas-tak het van die situasie te hore gekom en dadelik ingespring om die polisiestasie by te staan. Die tak het die herstelwerk behartig deur ’n plaaslike sakeonderneming te nader om die hekmotor te ondersoek en die nodige herstelwerk te doen.

“Dit is belangrik dat sleutelpunte, soos die polisiestasie, nie verder verval nie. Omdat die polisiestasie ’n baken van gemeenskapsveiligheid is, is dit nodig dat dié perseel ook eers beveilig word,” sê Botha.

Gemeenskapslede wat graag ’n verskil in Delmas wil maak, kan by AfriForum se tak op dié dorp betrokke raak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings