|

Delportshoop-tak woon plaaslike munisipale GOP-vergadering by

Die AfriForum-tak in Delportshoop het op 19 Mei die Dikgatlong Plaaslike Munsipaliteit se vergadering oor die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) in dié dorp bygewoon. Die raadslid vir wyk 6 het verskeie rolspelers en lede van die gemeenskap na die vergadering genooi.

AfriForum se beampte by plaaslikeregeringsake het opleiding oor deelname aan die hersieningsproses van dié takke se onderskeie munisipale geïntegreerde ontwikkelingsplan aangebied. Die vergadering was spesifiek toegespits op die deelname aan die GOP vir die plaaslike munisipaliteit en om kommentaar vanaf die gemeenskap te kry.

“AfriForum moedig takke aan om aktief betrokke te raak by die GOP-prosesse en die openbare vergaderings wat deur die onderskeie munisipaliteite gehou word. Dit is belangrik dat ons gemeenskappe seggenskap het oor hoe hulpbronne in die onderskeie dorpe aangewend word,” sê Lize-Mari van der Linden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

AfriForum moedig ook inwoners aan om GOP-gemeenskapsvergaderings in hul dorpe by te woon en munisipale kwessies aan hul takbestuur deur te gee.

Die plaaslike AfriForum-tak het die aand ook vergader oor projekte wat die organisasie saam met die gemeenskap wil aanpak en hoe die elektroniese GOP-vorm werk.

“Met die laaste vergadering is verskeie projekte geïdentifiseer. Ons kon tydens die gemeenskapsvergadering terugvoer gee oor hoe ons met die projekte vorder en die gemeenskap se inkoop gekry,” sluit Van der Linden af.

SMS “Delportshoop” na 45351 (R1) om by AfriForum aan te sluit.

Soortgelyke plasings