|

Deneysville-tak ruim dorp op

AfriForum se pas gestigte Deneysville-tak het letterlik nie gras onder hulle voete die afgelope Desember laat groei nie. Dié tak het dadelik die dorp begin netjies maak deur gras te sny en bome te snoei. Daar is op die dorp se ingang en die area by die biblioteek gekonsentreer. Die  Vereeniging-tak het goedgunstiglik hulle gereedskap en toerusting aan die Deneysville-tak beskikbaar gestel om die taak te verrig.

Die nuwe buurtwag het ook dadelik na die stigting weggespring en gereeld patrollies gery, veral tydens beurtkrag, wanneer misdaad altyd skerp toeneem. Marius Venter en sy vrou, Elsabie, van Vaal Emergency Care Private Ambulance Services, het aan die buurtwag noodhulpsakke geskenk. Hulle beoog ook om later in Januarie die makkerhulpopleiding te voltooi. Vir hulle eie veiligheid word die patrolleerders met lyfkameras en voertuigopsporingstelsels toegerus wat deur die beheerkamer gemoniteer word. Die patrolleerders kan ook met mekaar met behulp van tweerigtingradio’s kommunikeer.

Die tak het ook ’n inbelsentrum wat die publiek kan skakel as hulle probleme ondervind, of inligting verlang. Die inbeller kan dan die opsie kies om by die relevante bestuurslid uit te kom. Die nommer is 087 152 3176.

“Ek wil die gemeenskap bedank wat ons ondersteun het en verversings verskaf het. Ons is reeds besig met beplanning vir die nuwe jaar wat voorlê. Ons wil baie graag die dorp weer tot sy vorige glorie herstel. Ek vergader reeds met die plaaslike munisipaliteit om ons paaie te herstel sodat ons stukkende bande as gevolg van die slaggate kan voorkom. Ek bedank ook die Vereeniging-tak wat hulle toerusting vir ons geleen het, want daarsonder sou ons nie in Desember ons dorp kon opruim nie. Ons gaan ons eerste gemeenskapsvergadering op 2 Februarie hou, en wil graag die Deneysville-gemeenskap uitnooi om dit by Brentwood Lodge te kom bywoon,” sê Chris Els, die voorsitter van die Deneysville-tak.

Inwoners van Deneysville, Oranjeville en Viljoensdrif wat by dié tak en die buurtwag wil betrokke raak, kan vir Chris Els by 067 078 2740 kontak.

“Ek is baie opgewonde oor hierdie nuwe tak. Die gemeenskap is uiters positief om self hand aan die ploeg te slaan om ’n daadwerklike verskil in Deneysville te maak,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Die gemeenskap word aangemoedig om by AfriForum betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Deneysville of Oranjeville” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings